Personeelkamer Opening: 38. ‘n Stukkie Brood

38. groot

Hierdie is ons agt en dertigste Personeelkamer Opening.

‘n Stukkie Brood – ‘n Ware Verhaal

Jare gelede het die Readers Digest ‘n artikel geplaas oor die beroemde Dr Chris Barnard en sy ewe beroemde broer Dr Marius Barnard. Die atrikel het gegaan oor ‘n verhaal wat hom afgespeel het in die Grootte Schuur Hospitaal se hart eenheid.

Sy naam was Saul, hy het grootgeword op die wind verwaaide Kaapse vlaktes. Hy was een van die seuns van ‘n arm paartjie wat gesukkel het om die kinders elke dag van kos te voorsien. Hulle het in ‘n klein huisie gewoon en daar was nie genoeg beddens dat elkeen sy eie bed kon hê nie, en hulle moes maar meer as een op ‘n enkel bed slaap.

Saul het geweet wat dit beteken om honger te wees, daar was ‘n skaarste aan die noodsaaklike items in hulle huis, roomys was iets wat hulle net gesien het as ander mense dit eet. Hulle stapel voedsel was brood.

Soms was hulle gelukkig en was daar iets om op die brood te smeer, maar dikwels was dit droeë brood. Maar omdat Saul so grootgeword het, het hy nie daaroor gekla nie, hy was maar net te dankbaar as daar wel ‘n stukkie brood was.

Maar daar was nog ‘n probleem, Saul was siek, Saul was baie siek, en hy moes gaan vir ‘n ope hart operasie waar die beroemde hartspan op hom sou opereer.

Saul was opgeneem, en hy was in ‘n bed geplaas met spierwit beddegoed. Hy het vreemd gevoel, die wit beddegoed was oorweldigend, want hy het net ‘n bed met een laken op geken en hier was ‘n bo laken, onder laken, ‘n bedoortreksel, en twee groot opgepofte kussings. Om hom was daar baie masjiene en monitors en dit het hom verskrik gemaak.

Hy het gevoel dat die bed te groot vir hom was, by die huis het hulle beddens gedeel, en hier lê hy in ‘n vreemde kamer, in ‘n vreemde bed, met vreemde goed wat hy nog nooit gesien het nie.

Die volgende oggend is Saul ingestoot teater toe en die foutiewe hartklep is vervang. Hy is uitgestoot en terug in sy kamer het hy bygekom van die narkose. Daar was masjiene aan hom gekoppel wat vreemde geluide gemaak het. Daar was ‘n splint aan sy regterarm om die aarvoeding buise en antibiotika buise ferm in plek te hou. Daar was ‘n pyp in sy keel en hy was aan die hart\long masjien gekoppel. Hy kon nie praat nie, maar omdat hy aarvoeding gekry het was hy gelukkig ook nie honger nie, net baie bang en baie vreemd.

Toe die dag aanbreek dat hulle die hart masjien afskakel, sodat die hart weer op sy eie kan begin werk, het hulle besef daar is fout. Elke keer as hulle die masjien afskakel, het Saul se hart al hoe stadiger geklop. En na ‘n deeglike ondersoek het hulle tot die besef gekom dat hierdie kind se ander hartklep ook ingegee het. Hy sou vir ‘n tweede keer terug teater toe moes gaan en weereens sou daar ‘n ope hartoperasie op hom uitgevoer moes word. Dr. Barnard het langs Saul se bed gaan staan en mooi vir hom verduidelik wat hulle nou gaan doen.

Groot verskrikte oë het na hom toe opgekyk. “Saul” het dr. Barnard gevra, “Is daar iets wat ons vir jou kan gee, het jy miskien ‘n versoek?” Hy wou die kind gerusstel en het gedink miskien sal hy vra dat sy ouers moes kom, of iets wat hulle vir hom kon doen om hom minder verskrik te laat lyk.

Saul het sy kop stadig geknik, omdat daar pype by sy keel af was, kon hy nie praat nie. Dr. Barnard het toe vir die verpleeg personeel gevra vir ‘n stukkie papier en pen, en hy het dit vir Saul gegee, en vir hom gevra om sy versoek op papier neer te skryf.

Met die pen tussen sy vingers vasgeknyp, versigtig om nie die pype te versteur nie, het Saul sy versoek met ‘n bewerige handskrif op die papier geskryf.

Saul was baie siek, en omdat die eerste operasie nie ‘n sukses was nie, het hulle gewonder of hy die tweede een sou oorleef, en Dr. Barnard wou baie graag hierdie een versoek aan Saul toestaan. Hy het die papier geneem, en daar in ‘n kinderlike handskrif was ‘n jong seun se hartsbegeerte geskryf: …….NET ‘N STUKKIE BROOD.

Dis al wat hy wou gehad het, net ‘n stukkie brood. Brood wat vir hom die gevoel van sy ouerhuis sou terugbring. ‘n Stukkie brood wat vir hom sekuriteit sou gee. Maar helaas, hy moes gaan vir ‘n tweede operasie, en aan daardie eenvoudige versoek kon daar nie voldoen word nie. Saul het ongelukkig nie die tweede operasie oorleef nie. Dr. Barnard vertel dat hierdie een van die verhale was wat nie ‘n gelukkige einde gehad het nie.

Jesus is die Brood van die Lewe, en as omstandighede en situasies vir ons vreemd is, en as ons nodig het om sekuriteit in ons lewens te ervaar, of as vrees jou gryp soos wat dit vir Saul vasgegryp het, skryf jou versoek op die tafels van jou hart: Here, ek benodig vandag net ‘n stukkie Brood. Here ek benodig U teenwoordigheid, Here ek reik vandag uit na U toe, Gee my asseblief ‘n stukkie van Uself, gee asseblief vir my ‘n stukkie van die Brood van die Lewe.

Vir Saul was dit te laat, maar ek en jy kan nog van die Brood van die Lewe ontvang, vra net, en Hy sal jou gee dit wat jy nodig het.

Vader U is vir elkeen van die honger siele daarbuite ‘n Stukkie Brood.

Laai die Personeelkamer Opening hieronder in PDF formaat af:

38. PERSONEELKAMER OPENING – ‘n Stukkie Brood

Volg die skakel hieronder na ons ander Personeelkamer Opening idees:

https://algoagemeenskapskerk.com/category/personeelkamer-opening/

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s