Hierdie is ons vier en dertigste Personeelkamer Opening is geskryf deur Gerjo Ben.
Die Winkeleienaar se Besembestuurder
Wat is die netto effek as ons volgens God se prentjie lewe?
Hier is die antwoord in 2 Tess 1:12
12Dan sal julle ons Here Jesus se heerlikheid uitdra soos nog nooit tevore nie. Ander mense sal sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. Op julle beurt sal julle met eer beklee word deur die Here. Dit is presies hoe die goedheid van ons wonderlike God en die Here Jesus Christus in julle lewens werk.
Storie: Die Winkeleienaar se Besembestuurder
Ai! Hoe wens ek dat dit van my lewe vertel kan word. Ek wens my lewe kan ’n prentjie wees waar ander die heerlikheid van Jesus raaksien. Amper soos Hendrik se storie daar uit die Vrystaat. Jesus se heerlikheid staan oor alles geskrywe:
Toe ek een oggend om 07:15 my werkswinkel oopsluit, dank ek God vir gesondheid en dat ek steeds Sy vrede en vreugde ervaar.
Die eerste kliënt kom met ’n koppie Wimpy-koffie ingestap en kla dat dit nie meer soos die koffie van ouds smaak nie. Nóg ’n kennis wat al kouend aan ’n stukkie biltong van die slaghuis af gestap kom, grom-groet asof dit ’n stryd is om te lewe.
Mense met baie geld kla oor pryse wat te hoog is. Die biltong-man sê daar is amper geen vleis op die rakke nie. Iemand anders kla oor ou brood en nóg een oor ’n koue hamburger wat hy graag in die bestuurder van ’n sekere kitskos-restaurant se keel wil afdruk.
Aan al dié mense wat so onophoudelik kla, wil ek graag vertel wat ek vroegoggend op dieselfde dag gesien het.
Terwyl die man oor sy koue hamburger neul, sien ek uit die hoek van my oog hoe ’n ou straatloper in die slaghuis se vullissakke grawe. Ek hou hom dop terwyl hy met sy delwery besig is: Hy krap iets uit, ruik daaraan, hap en sluk. Sonder om te kou.
“Môre”, groet ek. “Wat is jou naam?’’
“My naam is Abraham, my lanie”, antwoord hy.
“Nou wat doen jy so vroeg hier tussen die vrot goed, ou Abraham?” wil ek weet.
“Ek is honger, my lanie”, kom die eenvoudige antwoord.
“Maar, ou Abraham, die goed is vrot”, kan ek nie help om die voordiehandliggende te beklemtoon nie.
“Ek weet, my lanie, maar die Jere het nog nie vandag vir my afgegooi nie. Miskien is Hy kwaad vir my.”
“Ou Abraham, hoekom vra jy nie vir geld as jy iets wil koop om te eet nie?
“Ek het my lanie, maar daardie man – en hy wys na die biltongeter – het my amper netnou geslaan. Hy sê ek moet voertsek.”
“Hoe oud is jy, Abraham?” wil ek weet.
“Agt-en-sewentig, my lanie.”
“Waar bly jy, Abraham?” vra ek uit.
“Bo teen die berg.” (Dis 8 km verder).
“En jou mense, ou Abraham?”
“Net my vrou bly by my, maar sy bene kan nie meer werk nie nou kan sy nie uit die huis nie.”
“Kry jy pension, Abraham?” vis ek.
“Nee my lanie, nog nie. Maar Mandela sal nog plan maak. So ek wag maar vir hom.” Abraham se broek, hemp en skoene is nie meer herkenbaar as klere nie.
“Here, wat nou?” vra ek stilweg, maar kry geen antwoord nie.
“Ou Abraham, ek dink regtig nie die Here het van jou vergeet nie,” sê ek oplaas.
“Ja, my lanie.”Die ou oë is glasig en dof. Sy kop hang vooroor soos hy al jare lank probeer om naby hom te sien. Die vulliswa trek in om die vullis te verwyder en die manne verskreeu ou Abraham.
“Waarnatoe gaan jy nou, ou Abraham?” wil ek weet toe hy aanskuifel.
“Ek gaan brood soek om huis toe te vat, my lanie. Ek het klaar ’n kannetjie vir die water.” Ou Abraham het ’n glimlag om sy geplooide mond.
“As my lanie wil, kan ek ’n besem bestuur en die plek mooi skoon vee vir ’n stukkie brood.”
Ek dink by myself: Is dit nou U wat deur Abraham praat?
“Ou Abraham, is jy seker jy het ’n liksens om die besem te bestuur?” wil ek weet.
“Ja, my lanie. My vrou het dit vir my gegee toe sy bene siek geword het.”
“Dis goed so, Abraham. Vandag het die Here vir jou ’n groot werk gegee. Jy is van vandag af die general manager van die besems. Hierdie besems gaan vir jou koffie gee in die plek van water. ’n Manager moet ook mooi skoon aantrek en ’n geldjie hê vir die ou vrou by die huis. Ek sien jy is ’n man wat ons nog baie in die toekoms kan leer oor die lewe, ou Abraham.”
“Kan ek elke dag inkom, my lanie?”
“Ja, Abraham. En Vrydae kry die besembestuurders ’n lekker Wimpy-ontbyt en hulle werk kort ure, want besembestuurders het tyd nodig vir hulle siek vrouens.”
“Is reg so, my lanie. Ek sien nou die Jere het ’n ander plan gehad vandag en amper dink ek Hy het my en die ou vrou gevageet. Jammer, Jere, omdat ou Abraham nie reg vestaan het nie.”
Doen jouself en ander mense vandag ’n guns: Probeer vir net één dag oor niks kla nie, want ou Abraham was vandag vir my só ’n groot inspirasie. Vandag het ek ’n waardige besembestuurder gekry! As ek nou voel die lewe druk, kyk ek na my besembestuurder en weet: Ek het mos niks om oor te kla nie …
Hendrik van der Linde is werkswinkeleienaar in die Vrystaat.
Dink bietjie hieroor
Dra jy Jesus se heerlikheid uit?
Hoe kan jy dit nog beter doen?
Is jy bereid om beskikbaar te wees as die Here deur jou ’n verskil wil maak in iemand se lewe?
Gebed
Here, mag U Naam deur my houding en optrede verheerlik word. Maak asseblief my geestesoë oop sodat ek kan sien wat U wil hê ek moet sien. Amen.
Geneem van: Kruispad | God se Woord in vandag se woorde / 1 Nov 2018
Laai die Personeelkamer Opening hieronder in PDF formaat af:
34. PERSONEELKAMER OPENING – Die Winkeleienaar se Besembestuurder
Volg die skakel hieronder na ons ander Personeelkamer Opening idees:
https://algoagemeenskapskerk.com/category/personeelkamer-opening/