Hierdie is sommer net ‘n bietjie inspirasie hier aan die einde van die skooljaar, vir die van julle wat nog Personeelkamer Openings nodig het.
Soek jy die Silwer Randjie?
Ons almal kla ons is moeg, siek en sat en eenvoudig net oor dit. ’n Kollega noem vanoggend dat vanjaar die eerste jaar is wat ons die volle jaar weer op kantoor werk. Dis inderwaarheid so, maar beteken dit dan dat ons nie meer werkfiks is nie?
My ma herinner my weer vriendelik dat ek baie het om voor dankbaar te wees. Daar is niks soos ’n wyse ma se woorde om ons weer terug te ruk aarde toe nie, nè? Maar, hoe kry jy die silwerrandjie as die wolk voor jou net te donker is? Omdat ma gepraat het moet ek ’n plan maak. Ek voel in my binneste dat ek nie nou die kapasiteit of vermoë het om my binneste drasties te verander nie, maar dalk is daar vyf dinge waarop ek kan fokus op my pad tot vrede in my hart en die herkenning van daardie silwerrandjie.
Na so ‘n bietjie stilstaan en stil raak besluit ek toe op die volgende vyf dinge:
- Wees dankbaar vir elke doelstelling wat jy vir jouself en jou gesin het. Dit beteken dat jy ’n daadwerklike plan met rigting het, en dat jy met positiwiteit jou eie toekoms kan vorm.
- Doen wat jy goed doen, soveel as moontlik. Dit beteken nou nie dat jy moet wegbly van dinge waarvan jy nie hou of so goed in is nie, maar dat jy wel fokus op jou sterkpunte, jou suksesse vier, en weet wat dit is wat jou uniek maak.
- Maak goeie vriende. Hierdie moet mense wees wat saam met jou bly is as jy bly is, maar wat ook dapper genoeg is om reguit vir jou te sê as jy die pad byster raak – met die doel om jou by te staan.
- Help ander. Dit help nie om te sug en kla oor mense wat nie meer oor mekaar omgee nie. Neem die inisiatief en help waar jy kan. Dit gaan jou nie net goed oor jouself laat voel nie, maar ook oor die positiewe verskil wat jy in iemand anders se dag kan maak.
- Lewe jou lewe soos jy wil. Jy skryf elke dag aan jou eie storie, en besluit self wat jou gaan vorm en hoe die storie gaan eindig.
Onthou, moeilike paaie lei dikwels tot pragtige bestemmings. Neem hierdie vyf punte en maak dit joune – ek sien jou aan die punt van die reënboog.
Deur Mandy-Michelle Thackwray – Solidariteit Blog
Laai die Personeelkamer Openings hieronder in PDF formaat af:
PERSONEELKAMER OPENING – Soek jy die Silwer Randjie
Volg die skakel hieronder na ons ander Personeelkamer Opening idees:
https://algoagemeenskapskerk.com/category/personeelkamer-opening/