AGTERGROND: Sondagskool lesse bestaan uit lesse vir Juniors en Seniors. Lesse vir die Juniors is vir Graad 4-6 geskryf en vir Seniors vir Graad 7-12. Lesse word in kleingroep-verband binne ‘n grootgroep aangebied. ‘n Fasiliteerder lei die grootgroep met leiers in die kleingroepe. Senior Sondagskool lesse bestaan uit EPIC lesse asook Sondagskool lesse.
Mini-Lesreeks: Heilige Gees – Seniors
Ons het die volgende paar lesse as deel van die “Om Jesus te volg” reeks gedoen. Die eerste aand het ons ‘n inleiding oor die Heilige Gees in die vorm van ‘n funaand gedoen. Tydens hierdie les het ons moeilike konsepte rondom die Heilige Gees op ‘n eenvoudige manier aan die kinders verduidelik. Hierdie lesse verskil van die ander lesse oor die Heilige Gees op hierdie Blog.
1. Heilige Gees Funaand
Jesus belowe die Heilige Gees vir ons in Sy Woord, en sê dat dit beter vir ons is dat Hy weggaan, want dan stuur Hy vir ons die Helper, die Heilige Gees. Tydens hierdie Funaand leer die kinders wat ‘n Helper beteken deur die speel van speletjies met chopsticks. Net een chopstick beteken niks nie, jy het twee nodig, en dis soos die Heilige Gees. Ons as kinders van God beteken niks op ons eie nie, ons het die Heilige Gees nodig.
JEUGLES – Heilige Gees Funaand
2. Heilige Gees 1
Tydens hierdie les word die vrae gevra: Wie is die Heilige Gees, Hoe kry ek die Heilige Gees en wat Doen die Heilige Gees. Daarna doen die kinders twee ysbrekers wat die funksie van die Heilige Gees baie mooi aan hulle verduidelik.
In die eerste ysbreker moet hulle die aktiwiteit begin doen en die instruksies lees soos hulle aangaan. Vir die tweede ysbreker moet hulle eers die instruksies lees en dan die aktiwiteit doen. Meeste van die kinders doen egter die hele lang aktiwiteit sonder om eers die instruksies te lees, net om aan die einde uit te vind, as hulle eers die instruksies gelees het soos hulle veronderstel was, hulle nooit die hele aktiwiteit hoef te gedoen het nie.
3. Heilige Gees 2
Die ysbreker vir hierdie les is ‘n hindernisbaan. Om my lewe vir Jesus te gee is WONDERLIK, maar dis ook die dag wanneer ek van die moeilikste besluite in my lewe moet begin neem. Dis ‘n WONDERLIKE pad om te stap, maar dis ‘n MOEILIKE pad, dit voel baie keer soos die hindernisbaan wat die kinders gedoen het.
God het egter geweet dat hierdie pad MOEILIK kan raak, en DAAROM gee Hy vir ons ‘n stukkie van Homself om ons te help op hierdie pad die dag wanneer ek tot bekering kom, Die Heilige Gees! Die Heilige Gees is soos die padtekens op die hindernisbaan van my lewe wat my waarsku en rigting vir my aandui.
Volg die skakel hieronder na ons ander Sondagskool lesse:
https://algoagemeenskapskerk.wordpress.com/category/sondagskool-lesse-snr/
[…] https://algoagemeenskapskerk.com/2017/04/06/jeug-heilige-gees/ […]
LikeLike