Dis ‘n wonderlike ondervinding om iemand na die Here toe te lei. Dit kan dalk ook ‘n kop krap ondervinding wees. Hoe doen jy dit en wat bid jy vir daardie persoon? Met hierdie sleutel gedagte wil ons graag ‘n paar wenke gee asook ‘n voorbeeld van ‘n gebed wat jy kan gebruik.
Gesprek voor gebed
Daar is ‘n paar dingetjies wat mens vooraf met die persoon wat tot bekering kom moet deel. As gelowiges wat langer die pad stap, is dit ons plig om jong gelowiges in te lig oor die strikke wat dalk op hulle pad kan kom nadat hulle by die deur uitstap. Sommige mense glo dat wanneer hulle hulle harte vir die Here gee, is als net maanskyn en rose en dis nodig om hulle te waarsku dat dit nie die geval is nie. Hier is ‘n paar punte om vir hulle te noem:
- Om te kies om Jesus te volg, is die beste besluit wat jy ooit kan maak, maar jy moet nou besef dat die Satan jou gaan teiken om jou te kry om op te hou Jesus volg;
- Hy kan mense en dinge oor jou pad stuur om jou moedeloos te maak en jy moet dit raaksien vir wat dit is en nie toelaat dat hy jou ontspoor nie;
- Onthou dat jy maatjies het met wie jy kan kom praat as dinge swaar raak, so moenie op jou eie probeer baklei nie;
- Jy moet nou nuut lewe en jy kan nie meer leef soos voorheen nie. Daar is dinge waarvan jy nou gaan moet afstand doen, want bekering beteken juis om jou rug op die wêreld te keer en nou in Jesus se voetspore te volg.
Gebed
Hierdie is die uitnodiging om Christus as Verlosser en Here te bely. Wanneer ons bid en bely moet ons dit doen met die oortuiging dat God se beloftes vir ons waar is.
Drie belangrike punte vir gebed:
- Bid vir die persoon
- Dat hy sal verstaan;
- Dat hy ‘n u-draai sal maak;
- Dat hy sal glo.
- Bid saam met die persoon (Romeine 10:9-10)
- Julle gaan nou saam bid. Sê vir die persoon dat hy/sy nou agter jou aan moet bid.
- Bid kort stukkies, sodat die persoon die woorde agterna kan bid.
- Bid vir die persoon vir sekerheid
- Bid vir sekerheid
- Bid vir die krag van die Heilige Gees in sy/haar lewe.
- Gebruik teksverse soos bv Joh 1:12, Joh 3:16, Joh 10:28.
Teaspoon metode vir gebed.
Dink aan die afkorting vir teaspoon – dis tsp. Dit sal jou help onthou wat om te bid wanneer jy iemand tot bekering lei.
T – Thank you
S – Sorry
P – Please
Jy kan soos volg bid:
Dankie (thank you) Here Jesus dat U aan die kruis vir my gesterf het.
Jammer (sorry) dat ek U verloën het en my eie pad wou volg. Vergewe asb al my sondes.
Asseblief (please) Heilige Gees kom woon nou in my hart.
Onthou om altyd die Heilige Gees te vra om jou te lei in hoe jy vir die persoon moet bid.
Hier is ‘n opsomming in pdf formaat wat jy vir jouself of vir jou jeugleiers kan aflaai:
Gaan kyk gerus na ons bekeringsles vir Kinderkerk en Sondagskool by die skakel hieronder:
https://algoagemeenskapskerk.wordpress.com/category/bekering/
Volg die skakel hieronder na ons ander #Sleutelgedagtes:
https://algoagemeenskapskerk.com/category/sleutelgedagtes/