Stories: Groot Wonderwerk in ‘n klein botteltjie

groot wonderwerk - groot

Soos ek hierdie pragtige storie lees het ek gewonder of die titel nie eerder “Die geloof van ‘n kind moes wees” nie, maar tog is albei so gepas vir hierdie storie. Matt 18:3 is so gepas by hierdie storie: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kinderjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie”

Tema van die Storie: Groot Wonderwerk in ‘n klein botteltjie:

Groot Wonderwerk in ‘n klein botteltjie, vertel die pragtige verhaal van ‘n dogtertjie wie se boetie siek was en ‘n baie duur operasie moes ondergaan. Sy het haar ma hoor sê dat net ‘n wonderwerk haar boetie kan red, en met haar kindergeloof is sy apteek toe om vir hom met die bietjie geldjies wat sy gehad het ‘n wonderwerk vir hom te gaan ‘koop’.

Groot Wonderwerk in ‘n klein botteltjie:

Tessa gaan na haar kamer en agter in haar kas, in ‘n donker klein wegsteek hoekie, haal sy haar glas bottel met al haar spaar geldjies uit. Versigtig gooi sy die kleingeld op haar bed uit en begin die geld te tel. Sy tel die geld drie keer oor, om seker te maak dat die totaal korrek is. Sy gooi die munte terug in die glas bottel en draai die skroefdeksel terug. Versigtig plaas sy die glas bottel in haar rugsak en glip ongesiens by die agterdeur uit. Sy stap ses blokke ver om by die groot apteek in die stad uit te kom.

Geduldig wag sy dat die apteker haar help, maar hy was te besig om haar raak te sien. Tessa skuifel haar voete op die teëlvloer om ‘n skuur geluid te maak, geen reaksie van die apteker nie. Sy maak op die onaardigste wyse keel skoon, maar steeds geen reaksie. Uiteindelik neem sy een van die munte uit haar bottel en tik daarmee op die glas toonbank. Die keer werk dit!

“En wat wil jy hê?” vra die apteker ongeduldig terwyl hy die gesprek met sy broer onderbreek wat kom kuier het. “Ek is besig om met my broer te gesels, wat ek jare laas gesien het,” sê die apteker, sonder om op ‘n antwoord te wag op sy vraag aan Tessa.

“Wel, ek wil met jou gesels oor my broer!,” antwoord Tessa in dieselfde geirriteerde stemtoon as die apteker. “Hy is regtig egtig baie siek …… ek wil ‘n wonderwerk koop vir hom.”

“Verskoon tog, wat sê jy daar kind?” vra die apteker. “Sy naam is Andries, en hy het iets slegs wat in sy kop groei en my pappa sê slegs ‘n wonderwerk sal hom nou kan red. So, hoeveel kos ‘n wonderwerk hier by julle?”

“Ons verkoop nie wonderwerke hier nie, meisie, ek is jammer ek kan jou nie help nie,” antwoord die apteker in ‘n baie sagter stemtoon.

“Oom, ek het geld om daarvoor te betaal. As dit nie genoeg is nie, sal ek die res in die hande kry. Vertel my tog net ….. hoeveel kos so ‘n wonderwerk?”

Die apteker se broer, ‘n welgeklee middeljarige man, was ontroerd deur die klein meisie se pleidooi. Hy stap om die toonbank, gaan buk by die meisie en vra, “Watse soort wonderwerk het jou boetie nodig?”

“Ek weet nie,” antwoord Tessa terwyl die trane opwel in haar klein dogtertjie oë.”Ek weet net hy is regtig baie siek en mamma sê dat hy ‘n operasie sal nodig hê. Maar my pappa kan nie vir die operasie betaal nie, so ek wil my geld gebruik om vir my boetie ‘n wonderwerk te koop.”

“Hoeveel geld het jy by jou?” vra die apteker se broer.

“Tien rand en vyf en vyftig sent,” antwoord sy in ‘n stemmetjie wat skaars hoorbaar is. “En dit is al die geld wat ek het, maar ek kan nog meer in die hande kry wanneer ek my sakgeld kry die einde van die maand.”

“Wel, wat ‘n toevalligheid is dit nou nie!” glimlag die man. “Tien rand en vyf en vyftig sent – die presiese prys van ‘n wonderwerk vir klein boeties.”

Hy neem Tessa se geld in die een hand en neem haar klein handjie in sy ander hand en sê, “Neem my na waar julle bly. Ek wil jou klein boetie sien en jou ouers ontmoet. Laat ons kan sien of ek die soort wonderwerk het wat jy benodig.”

Die welgeklee man was ‘n sjirurg wat gespesialiseer het in neuro-sjirurgie. Die operasie is gedoen sonder enige kostes en dit was nie lank daarna nie, toe is klein Andries terug by die huis en blakend gesond.

Ma en Pa het vol vreugde gesels oor hoe wonderlik alles uitgewerk het vir klein Andries. “Daardie operasie,” het Ma gefluister, “was ‘n werklike wonderwerk. Ek wonder wat so ‘n operasie sou gekos het?”

Tessa glimlag. Sy weet presies hoeveel ‘n wonderwerk kos ………. tien rand en vyf en vyftig sent ……….. plus die geloof van ‘n klein kindjie.

Die vraag is vandag: Glo JY nog in wonderwerke, of glo jy nie regtig meer in die krag van ‘n Hoër hand wat in werking kom wanneer ons glo en Sy aangesig soek nie?

‘n Wonderwerk is nie die opheffing van ‘n natuurlike wet nie maar die werking van ‘n Hoër Wet.

Laai die storie hieronder in PDF formaat af:

Groot wonderwerk in ‘n klein botteltjie

Volg die skakel hieronder na ons ander Stories:

https://algoagemeenskapskerk.com/category/stories/

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s