Hierdie is ons twee en twintigste Kort boodskap, Saalopening idee, en is geskryf deur Simonè Kotze.
Storie: Die potlood-maker
‘n Potlood-maker het die volgende gesprek met ‘n potlood gevoer net nadat hy hom klaar gemaak en mooi geverf het. Hy het gesê: Voor ek jou die wêreld instuur, is daar vyf belangrike dinge wat jy moet onthou. As jy altyd aan hierdie beginsels dink en dit in jou lewe toepas, sal jy die beste potlood word wat jy kan wees.
1. Jy sal baie dinge kan skryf of teken, maar jy sal net kan skryf as jy gaan toelaat dat ‘n mens jou vashou.
2. Jy sal van tyd tot tyd baie seerkry. Maar jy moet ongelukkig soms skerp gemaak word. Dit sal jou help om ’n nog beter potlood te wees.
3. Jy sal alle foute wat jy dalk mag maak, kan regmaak – nie op jou eie nie, maar met die hulp van die mens wat jou vashou.
4. Los ‘n merk waar jy gaan, wees die beste potlood wat jy kan wees.
5. Die heel belangrikste deel van jou is die binneste grafiet wat deur die hout bedek word. Dis eintlik hierdie binneste deel wat van jou ’n regte potlood maak. Maak nie saak op watter oppervlak daar met jou geskryf gaan word nie, jy gaan ‘n merk nalaat – soms hard, soms sag, soms mooi, soms lelik. Party oppervlakke is moeiliker om op te skryf as ander, maar van jou gaan verwag word om te skryf.
Die potlood was baie dankbaar vir die goeie raad en het met ‘n positiewe houding op die winkelrak gaan lê. Hy kon nie wag om ‘n eienaar te kry nie.
Ons kan die volgende van ‘n potlood leer:
1. Daar is ’n hand wat die potlood lei. God het vir jou en my lewe groot en mooi dinge planne, maar ons wil nie altyd na God luister en daardie pad loop wat God wil hê ons moet loop nie. Ons volg ons eie kop en so mis ons ‘n wonderlike lewe. Ons kan net mooi, groot dinge ervaar in ons lewens wanneer dit deur iemand se hand, God se hand, gelei word. Gelukkig wil God niks meer hê as om ons te lei nie.
2.‘n Potlood moet skerpgemaak word. Net soos die potlood gaan ek en jy ook soms hartseer en minder lekker dinge moet deurmaak! Alles gaan nie altyd verloop soos ons dit wil hê nie. Op die ou-end, al verstaan ons dit nie nou nie, wil God hê dat al die hartseer van ons sterker en beter mense maak.
3.Foute kan uitgevee word. Geen fout wat ek en jy ooit sal maak, gaan té groot wees om reg te maak nie. Nie omdat ons so wonderlik is nie, maar omdat God ons help.
4.‘n Potlood los ‘n merk. Oral waar ons gaan los ons ‘n merk. Is die merk wat jy los mooi of lelik?
5.As ons ons lewens in God se hand lê, sal ons ‘n ongelooflike spoor laat. God kan die mooiste prentjie skets as jy Hom net toelaat.
6.Dit gaan oor wat binne is. Die lood in ‘n potlood laat ons toe om te skryf of teken. Dit help ook nie ons wil skryf, maar die lood breek heeltyd nie. Ons bestee baie tyd aan ons uiterlike voorkoms en ons is baie bekommerd oor ons klere en haarstyle. Maar ons heel belangrikste deel, is dit wat net God kan sien – ons harte.
Skrifgedeelte: Samuel 16:7: “Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here kyk na die innerlike.”
Gebed:
Jesus, baie dankie dat ons almal vandag die boodskap van die potlood kon ontvang. Dankie dat U in beheer van ons lewens is en dat U ‘n mooi prentjie teken vir ons lewens, en dat ons ons nie hoef te bekommer nie. Jesus help ons om te fokus op ons harte, en om ons nie te bekommer oor hoe ons buite lyk nie. Help ons om ook ander se mooi harte raak te sien, en om nie altyd te kyk na hoe maats buite lyk nie. Dankie dat U ons help om foute uit te vee en dat U ons sonde vergewe. Dankie dat U hand altyd oor ons is en dat U na ons kyk, maak nie saak waar ons is nie. Amen
Laai die saalopening hieronder in PDF formaat af:
22. Saalopening – Die potlood-maker
Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees: