Hierdie is ons agste Personeelkamer Opening.
Tien Beloftes
Ek is seker meeste van julle het hierdie al gehoor, maar dit bly SO mooi en SO waar, beslis ‘n oomblik van ons tyd werd.
*Eerste belofte* As Ek die eerste plek in jou lewe inneem, sal jy geen ander gode wil dien nie, want Ek sal die ereplek in jou lewe hê!
*Tweede belofte* As Ek in jou hart woon, sal dit nie nodig wees om gesnede beelde van My te maak nie, want jy sal self My beeld dra!
*Derde belofte* As jy My liefhet, sal My naam nooit ’n vloekwoord oor jou lippe kan wees nie, maar in alle omstandighede deur jou eerbiedig en gerespekteer word!
*Vierde belofte* As Ek die ereplek in jou lewe het, sal Sabbat die hoogtepunt van die week vir jou wees. Dit sal vir jou ’n vreugde wees om My in die Gemeenskap van die gelowiges te aanbid. ’n Dag om na uit te sien, nie om teen op te sien nie!
*Vyfde belofte* As Ek in jou lewe is, sal dit vir jou ’n voorreg wees om jou ouers te eer en lief te hê. Dit sal nie vir jou moeilik wees nie, want agter Hulle sal jy My sien wat hulle vir jou uitgekies het!
*Sesde belofte* As jy my liefde jou eie gemaak het, sal jy nooit iemand wil seermaak of haat nie, wat nog te sê doodmaak!
*Sewende belofte* As jy My liefhet, sal dit nie moeilik wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie. As Ek ’n plek in jou huwelik het, sal julle vir mekaar lief wees en julle geluk sal ek in my hande bewaar en vashou!
*Agtste belofte* As Ek op die troon van jou lewe sit, sal jy daagliks vra: ‘Aan wie en waar kan ek aan ’n ander iets gee, en jy sal nooit iets van ’n ander wil neem nie’
*Negende belofte* As Ek in jou lewe is, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van ’n ander kwaad te praat nie. Deur my gees sal jy ’n mens wees wat van ’n ander niks sal sê as dit nie iets goeds is nie!
*Tiende belofte* As jy een met My is, sal My gees jou tevredenheid gee om vergenoegd te wees met wat jy het, met die besef dat God gee soos wat jy nodig het en wat Hy gee, gee Hy altyd genoeg sodat jy niks sal kortkom nie.
Toepassing:
Soos julle seker agterkom het, is hierdie eintlik die 10 gebooie. Wat so mooi is van hierdie een is dat as jy God liefhet, die 10 gebooie nie vir jou ‘n ‘straf’ of ‘n stel reëls is nie, dit is ‘n natuurlike uitvloeing van jou verhouding met Hom. Dan raak die 10 gebooie vir jou die 10 beloftes.
Laai die Personeelkamer Opening hieronder in PDF formaat af:
8. PERSONEELKAMER OPENING – 10 Beloftes
Volg die skakel hieronder na ons ander Personeelkamer Opening idees:
https://algoagemeenskapskerk.com/category/personeelkamer-opening/