Hierdie is ons sestiende Personeelkamer Opening.
God laat alles ten goede meewerk
Daar was eendag ‘n koning wat ‘n dienskneg gehad het, wat in alle omstandighede vir hom gesê het: My koning, moenie moed verloor nie, want alles wat God doen is perfek, want Hy maak nooit ‘n fout nie.
Eendag terwyl die koning en die dienskneg gaan jag het, het ‘n wilde diere die koning aangeval. Die dienskneg het dit reggekry om die dier dood te maak, maar nie voordat die koning een van sy vingers verloor het nie. Die koning was woedend gewees, glad nie dankbaar dat die dienskneg sy lewe gered het, en dat hy net ‘n vinger verloor het nie.
Die koning het vir die dienskneg gesê dat as God goed was, die wilde dier hom nie sou aangeval het, en hy nie ‘n vinger sou verloor het nie. Die dienskneg se antwoord was soos gewoonlik: ten spyte van al hierdie goed kan ek net vir u sê dat God goed is, dat alles wat hy doen perfek is, en dat Hy nooit ‘n fout maak nie.
Die koning was woedend oor die dienskneg se antwoord en het hom in die tronk laat gooi. Oppad tronk toe het hy weer vir die koning gesê dat God goed is en nooit ‘n fout maak nie.
‘n Rukkie later het die koning weer besluit om te gaan jag, maar hierdie keer alleen. Hy is deur barbare gevange geneem wat mense gebruik het as offers. Op die altaar het een van die barbare agtergekom dat die koning net nege vingers het! Hulle het hom dadelik laat gaan, want hulle kon nie ‘gebreklike’ offers aan hulle gode offer nie.
Die koning het die dienskneg met sy terugkeer dadelik vrygelaat. Hy was baie opgewonde, en het vir sy dienskneg vertel hoe goed God vir hom was. Hy was amper doodgemaak, maar omdat hy een van sy vingers nie meer het nie, het hulle hom vrygelaat.
Die koning wou by die dienskneg weet as God dan so goed is, hoekom het Hy toegelaat dat die koning hom in die tronk sit. Die dienskneg het hom geantwoord dat as hy nie in die tronk was nie, hy saam met die koning sou gaan jag het, en dat die barbare hom dan sou geoffer het, want hy het nog al sy vingers!
Toepassing:
Omdat ons nie die groter prentjie ken nie, verstaan ons nie die slegte goed wat oor ons pad kom nie. God sê vir ons in Romeine 8:28 dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Dit beteken NIE dat alles altyd ‘ok’ en sonder probleme of seerkry gaan wees nie. Dit bekend dat op die einde, wanneer ons terugkyk op ‘n pad wat ons nie verstaan nie, ons sal sien hoe God vir ons voorsien en vir ons gesorg het. Partykeer JUIS deur ‘slegte’ omstandighede, soos met die koning en die slaaf. Albei het iets sleg oorgekom, maar op die einde was elkeen se ‘sleg’ juis dit wat hulle gered het.
En dan wil ek afsluit met hierdie pragtige belofte uit Jeremia 29:11 wat so mooi hierby aansluit:
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie, Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting”.
Laai die Personeelkamer Opening hieronder in PDF formaat af:
16. PERSONEELKAMER OPENING – God laat alles ten goede meewerk
Volg die skakel hieronder na ons ander Personeelkamer Opening idees:
https://algoagemeenskapskerk.com/category/personeelkamer-opening/