Hierdie is ons een en dertigste Personeelkamer Opening.
‘n Sinkhuis lewe
My geloof is aanmekaar gelap met gate waardeur die twyfelwinde loei.
Die skewe mure van my bietjie-glo-lewe kan enige tyd inmekaar sak!
Om jou lewe aan God toe te vertrou beteken nie dat jy jou huis bou waar daar nooit storms sal woed nie, maar dat jy ‘n huis bou wat deur geen storm vernietig kan word nie.
Onthou dat alles wat ons vir ons huisie nodig het, is in God se stoor, alles op die onderste rak, ons kan dit slegs bykom op ons knieë.
Bou my weer Here, grawe die fondament van my huisie dieper. Sit versterkings in en gee my asseblief ‘n paar lae genadeverf!
Ja Here, hier is ek: Maak my geloof weer ‘n stewig-staan huisie.
Dan, Vader, kom maak my huisie skoon van binne. Dis nie die stof en kolle op die meubels wat oop en bloot is wat my hinder nie, dis die vuil wat ophoop àgter die yskas, ònder die beddens en in die hoeke van die kaste waar niemand dit kan sien nie, maar ék weet dis daar!
In my lewe gaan dit ook so Here, dis die geheime sondes wat my hinder, die wegsteek en bitterheid oor klein dingetjies, die griewe, opvliëende en lelike gedagtes waarvoor ek stilbly en tog, met ‘n geheime hoogmoed, dink ek soveel van myself en van ander minder.
U sien alles Here! Help my, om my lewe skoon te maak soos ek graag my huis wil hê. Neem asseblief weg, die spinnerakke en stof van trots, hoogmoed en lelikheid.
Die vuilheid agter die yskas benadeel niemand nie; wel die vuilheid in my hart – dit stoot mense weg.
Vandag wil ek weer eens vir U dankie sê vir alles!
Vir wasgoed: want dan het ons klere, vir ‘n deurmekaar huis, want dit is ‘n dak oor ons hoof! Vir vuil skottelgoed – want ons het kos. Vir vroeg opstaan – ons het ‘n werk! Dankie vir lastige selfone, ons het vriende wat ons onthou!
Vader, sit ‘n bordjie voor my deur wat sê: ONDER SPESIALE VERSORGING VAN ONS HEMELSE VADER.
Dankie Vader.
Laai die Personeelkamer Opening hieronder in PDF formaat af:
31. PERSONEELKAMER OPENING – ‘n Sinkhuis lewe
Volg die skakel hieronder na ons ander Personeelkamer Opening idees:
https://algoagemeenskapskerk.com/category/personeelkamer-opening/