Hierdie is ons vier en veertigste Kort Boodskap, Saalopening idee.
Talente:
Benodigdhede:
- Papier
- Penne
- Lepel
- Mes
- Bakkie met kitspap
- Klein blokkie kaas
Voorbereiding:
Hierdie is ‘n baie praktiese les om gawes en talente aan die kinders te demonstreer. Jy gaan voor die tyd met ‘n paar kinders moet reël om jou te help. Jy benodig twee kinders wat goed kan teken (kunstenaars), twee kinders wat goeie akteurs is en twee kinders wat goed kan verduidelik (praters).
Skryf ‘n klompie woorde op papiertjies neer en gooi dit in ‘n sakkie of ‘n houer: bv. huis, voël, superhero, jellybeans, bubblegum, skaatsplank, boom ens.
Deel die kinders in twee groepe op, elke groep met ‘n kunstenaar, akteur, en prater. Laat hulle aan weerskante van die verhoog staan. Jyself staan in die middel van die verhoog, wanneer jy ‘begin’ sê, hardloop een uit elke groep na die tafel waarop jy die sak met papiertjies in het, en elkeen trek ‘n papiertjie.
Indien die kunstenaar die papiertjie getrek het, sal hy of sy dit teken wat op die papier staan. Indien dit die akteur is sal hulle dit ‘uit act’, indien dit die prater is, sal hulle dit verduidelik aan die res van die span. Sodra die span reg geraai het, kan die volgende spanlid ‘n papiertjie gaan trek.
Inleiding:
Vandag gaan ons oor ‘n baie intressante tema gesels, talente. Kom ons kyk gou, wie van julle kan goed teken, hande op. Wie kan mooi sing? Wie is goed in sport? Wie kan lekker gesels? Ja, dis ook ‘n talent.
Ek het met ‘n paar kinders gereël om my met die eerste ysbreker te help, julle kan gou opkom. Terwyl hulle opkom verduidelik jy vir die res hoe die speletjie gaan werk.
Wat het julle oplet? Omdat elkeen in die span gedoen het wat hy of sy in goed was, was die speletjie baie maklik om te speel.
Demonstrasie:
Reël voor die tyd met twee vrywilligers om jou hiermee te help.
Vir die eerste vrywilliger gee jy ‘n lepel, en vir die tweede ‘n mes. Elkeen kry ‘n bakkie met kitspap in. Die vrywillger met die lepel moet die pap met die lepel eet, en die een met die mes moet dit met die mes probeer eet (NIE drink nie, maar die mes gebruik)
Gee nou vir die vrywilliger ‘n blokkie kaas, en vra vir hulle om ‘n stukkie daarvan met die mes af te sny. Natuurlik kan hulle, geen probleem nie.
Vra nou vir die vrywilliger met die lepel om ‘n reguit, netjiese stukkie van die kaas met die lepel af te sny. Hulle gaan beslis ‘n stukkie kan afsny, maar dit gaan nie netjies en reguit soos die met die mes wees nie!
Talente:
Nou wat het lepels en messe met talente te doen?
Soos julle kon sien lyk die lepel en die mes nie dieselfde nie. Die lepel is gemaak om goed mee te skep, en die mes om goed mee te sny. Elkeen is gemaak vir ‘n spesifieke DOEL, elkeen werk goed, maar nie vir dieselfde doel nie!
So het God elkeen van ons ook gemaak met spesiale vaardighede vir ‘n spesifieke doel! Hierdie vaardighede noem ons gawes en talente.
Party van julle kan goed teken, ander kan mooi sing, ander kan lekker gesels, en met enige iemand gesels. Party mense se spesiale gawe is om raak te sien wanneer iemand deur ‘n moeilike tyd gaan en daar te wees vir hulle. Selfs goeie vriende is ‘n spesiale gawe!
Die Bybel noem baie verskillende gawes en talente wat God vir ons gee, en Hy het voor jou geboorte al hierdie spesiale gawes en talente in jou ingebou.
Ons lees in 1 Pet 4:10 (Die Boodskap) God het aan elkeen van julle uitsonderlike talente gegee. Moenie dink dit is julle wat so goed is nie. Nee, dit is God wat eintlik so goed vir julle is. Daarom moet julle julle talente gebruik om ander te help.
Toepassing:
Dink gou aan die lepel en die mes. Beteken hulle iets as hulle net in die laai lê en nie gebruik word nie? Nee, NATUURLIK nie! Jy moet dit uit die laai uithaal en GEBRUIK vir dit om ‘n doel te hê. Die feit dat dit ‘n lepel en ‘n mes is gee dit nog nie ‘n doel nie, eers wanneer dit gebruik word het dit ‘n doel.
Dieselfde is waar van ons gawes en talente wat God vir ons gegee het, as ons dit nie GEBRUIK nie, beteken dit NIKS vir ons nie, en het dit geen doel nie. Jy moet dit GEBRUIK vir dit om ‘n doel te hê!
God het vir elkeen van ons spesiale gawes en talente gegee. Miskien weet jy nog nie wat joune is nie, of dink jy nie dat dit wat jy het veel werd is nie.
Vra vir die Here om jou te wys wat jou gawes en talente is. Jy kan selfs jou ma, pa en onderwysers vra. Baie keer sien die mense om jou meer van jou raak as wat jy van jouself raaksien.
God wil hê dat elkeen van ons hierdie spesiale gawes en talente moet gebruik wat Hy vir ons gegee het, want dis waarvoor Hy dit gegee het, om GEBRUIK te word!
Laai die Saalopening les hieronder in PDF formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees: