Ons Woord leer ons dat gebed een van ons kragtigste geestelike wapens is wat ons het om te gebruik. Met dit ingedagte kom die volgende vraag by my op: As gebed een van ons kragtigste wapens is, hoekom spandeer ons nie meer tyd aan gebed tydens ons Sondagskool, Kinderkerk en Jeugaande nie?
Jeug Gebedsaand: My Identiteit in Christus
Ons het hierdie kwartaal die tema: My identiteit in Christus met ons Kinderkerk en Sondagskool gedoen. Hierdie pragtige gebedsgeleentheid is gebruik om die tema en die kwartaal mee af te sluit. Dit word in die vorm van Gebedstasies gedoen, ons het foto’s bygesit van wat ons gedoen het.
Stasie 1: God se oneindige liefde vir ons
Johannes 3:16: Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Sit ‘n horlosie in die vertrek neer. Luister na die horlosie soos die tyd tik. Met elke tik kan jy weet dat God jou van altyd af liefgehad het.
Aktiwiteit: Vul nou by elke uur van die dag op die horlosie in die maniere wat jy in jou lewe ervaar hoe God jou liefhet
Stasie 2: Oortuiging van sonde
Maak ‘n swart kamer wat sonde voorstel. Sit papiertjies, potlode en uitveers neer
Daar is nie een mens wat sonder sonde is nie. God sê in Jesaja 1:18: Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al wat dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
Aktiwiteit: Spandeer bietjie tyd in stilte met God en vra Hom om die sonde in jou lewe uit te wys. Skryf op die blaaitjie hierdie sonde in potlood neer en vee dit dan uit met die uitveer. Die uitvee, is ‘n teken van God se vergifnis vir jou sondes.
Stasie 3: Wedergeboorte
Sit skottel met water neer asook iets wat in water kan oplos soos sout of suiker en ‘n lepel om mee te roer
Johannes 3:3: Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
Leier gooi sout/suiker in water. Sê: Hierdie is gewone water. As ek die sout/suiker ingooi en dit roer tot dit oplos, gaan niemand kan sien dit is anders nie. As ek dit sou drink, gaan ek kan proe daar is iets anders in. Ons het geleer dat ons weer gebore moet word. Hierdie is nie ‘n ek word weer ‘n babatjie nie, maar dat in my binneste moet ek ‘n nuwe mens word. Geestelik moet iets met my gebeur. Is jy bereid dat Jesus deur Sy Heilige Gees jou ‘n nuwe mens maak? Sit ‘n rukkie en gesels met God daaroor.
Stasie 4: Volkome vertroue op Jesus
Plak dinge op wat mense dalk meer op vertrou as op God bv geld, familie, eie ek, tegnologie ens. Maak ‘n posbussie en sit papiertjies neer met penne
Ons het in Mattheus 19:16-26 gelees van die ryk jong man wie se liefde vir geld hom weerhou het daarvan om Jesus voluit te volg. Is daar dinge in jou lewe wat jy meer op vertrou as Jesus?
Aktiwiteit: Gee vir kinders kans om op die papiertjies neer te skryf watter dinge hulle meer vertrou as Jesus in hulle lewens en as hulle regtig bereid is om Jesus eerder te vertrou as daardie dinge, kan hulle dit in die posbussie gaan gooi as teken dat hulle nou hulle vertroue in Jesus plaas.
Stasie 5: Toewyding aan Jesus alleen
Print die padteken uit en plak teen muur. Print ook genoeg vir elke kind.
Lees Psalm 32:8: Ek wil jou onderrig en leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee en My oog sal op jou wees.
Sê: Die padteken wat ons sien is min of meer die universiele padteken vir ‘n kruispad.
Soms is dit moeilik om te weet watter pad jy moet stap en watter besluite jy moet maak. God belowe hier om jou te help en te lei om die regte besluite te neem. Ons is nie geroep om stil te staan nie, maar om die pad te stap van die Here met toewyding. Jy moet delf in die Bybel en bid sodat jy sal verstaan wat God se planne vir jou is sodat jy toegerus kan word met die gereedskap om vorentoe te beweeg in geloof en met vertroue in God. So vandag staan jy by ‘n kruispad waar jy moet kies gaan jy die pad voluit stap of nie? Commit jy tot God se weg?
Aktiwiteit: Elke kind kan nou hulle gebed van commitment skryf op hulle eie in die padteken.
Laai die dokument hieronder in PDF formaat af:
SONDAGSKOOL LES – 7. Gebedsgeleentheid
7. Gebedsgeleentheid – Padteken
7. Gebedsgeleentheid – Horlosie
Volg die skakel hieronder na ons ander gebedshulpbronne:
https://algoagemeenskapskerk.wordpress.com/category/gebed/