Ons gaan hierdie kwartaal in diepte met die kinders werk rondom die Vrugte van die Gees. Na ‘n vakansie is ‘n funaand altyd die beste manier om die aand te hanteer, want die kinders is wild na die vakansie en mekaar min sien.
Vrugte van die Gees
Ons gaan die tema van die kwartaal vir ons eerste funaand vanaand gebruik – die Vrugte van die Gees. Vir elke vrug gee ons ‘n definisie van die vrug, heg ‘n Bybeldeel daaraan en speel dan ‘n speletjie om dit beter te verduidelik.
Ysbreker – Oestyd: Elke groep kry ‘n tafeldoek – ALMAL moet daaraan vashou, NIEMAND se hande mag van die tafeldoek af wees nie. Jy gooi ‘n klomp gekleurde plastiek balletjies op die vloer. Soos jy ‘n vrug van die Gees en ‘n kleur roep moet die groepe kyk hoeveel van daai kleur balletjies hulle met die tafeldoek kan optel sonder om hulle hande te gebruik.
Vrug van die Gees : LIEFDE
Bybelverhaal 1 Kon 3:16-28: Die twee vroue met die baba by koning Salomo.
Speletjie: Elke groep kry ‘n klomp blaaie en skêre, hulle moet kyk hoeveel hartjies hulle in ‘n minuut uit die papier kan sny, mense se name daarop skryf en dit teen die muur gaan plak.
Vrug van die Gees: VREUGDE
Bybelverhaal Hand 16:25-34: Paulus en Silas in die tronk
Speletjie: Hierdie soort vreugde laat my altyd aan borrels dink. Elke groep kry ‘n swartsak en ‘n skotteltjie met skottelgoed seepwater in. Elke groeplid kry ‘n strooitjie. Die groepe kry ‘n minuut om te kyk wie kan die meeste borrels blaas.
Vrug van die Gees: VREDE
Bybelverhaal Daniël 3:13-18: Daniël se drie vriende in die vuuroond
Speletjie: Elke groep gaan ‘n stel LEGO blokkies kry en ‘n stuk karton waarop hulle ‘n muur moet bou. Twee van die kinders gaan die karton die heeltyd skud om dit moeilik vir die bouers te maak. Ons kan nie funksioneer as ons stress en worry nie (karton wat geskud word), maar as ons in ‘n verhouding met God staan dan is ons rustig en kalm t.s.v. moeilike omstandighede (Daniël se 3 vriende).
Vrug van die Gees: GEDULD
Bybelverhaal Heb 6:15: Abraham wat wag vir die belofte om in vervulling te kom.
Speletjie: Elke groep gaan ‘n paar blaaie en ‘n origami dingetjie kry om te bou. Min van ons weet regtig HOE om dit te bou, en dit vat GEDULD om dit klaar te maak en nie halfpad op te hou nie.
Vrug van die Gees: VRIENDELIKHEID EN GOEDHARTIGHEID:
Bybelverhaal Luk 10: 25-37: Die Barmhartige Samaritaan
Speletjie: Vir hierdie speletjie gaan ons ‘n Goedhartigheid ‘boom’ maak. Die boom is reeds vasgeplak teen die muur. Julle gaan in julle groepe dink aan PRAKTIESE, alledaagse voorbeelde van HOE julle gaaf / goedhartig by die skool, huis en tussen jou vriende kan wees. Skryf die voorbeelde op die papiertjies en kom plak dit dan op die boom.
Vrug van die Gees: NEDERIGHEID:
Bybelverhaal Luk 3:16: Johannes die Doper
Speletjie: Elke groep kry ‘n paar stukkies spaghetti en ‘n klompie krale. Julle kry ‘n minuut om te kyk hoeveel krale julle deur die spaghetti kan ryg sonder om dit te breek. Nederigheid het ‘sagtheid’ nodig, soos jy dit nodig het vir die deurkry van die krale sonder om die spaghetti te breek.
Vrug van die Gees: SELFBEHEERSING
Bybelverhaal Gen 39:10: Josef en Potifar se vrou
Speletjie: Ons gaan kyk wie kan vir ‘n minuut doodstil SIT, en glad nie PRAAT nie! Sjoe, wat ‘n oefening van selfbeheersing vir van die kinders…
Vrug van die Gees: GETROUHEID:
Bybelverhaal Matt 21: 28-32: Die twee seuns en die wingerd
Speletjie: Die ‘trustfall’ bly seker die beste voorbeeld van getrouheid. Een groeplid staan op ‘n slag in die middel van die groep en val terug en die groeplede vang hom of haar. Ek sê ek sal jou vang, en jy sal nie seerkry nie, en ek vang jou, en jy kry nie seer nie. Ek DOEN wat ek sê ek gaan doen!
Laai die dokumente hieronder af:
JEUG FUNAAND – Vrugte van die Gees
Funaand – Vrugte van die Gees PPT
Volg die skakel hieronder na ons ander lesse oor die Vrugte van die Gees
https://algoagemeenskapskerk.com/category/vrugte-van-die-gees/