Wie van ons ken NIE hierdie pragtige, ou bekende liedjie uit ons Sondagskool en Kinderkrans dae nie? Dis so jammer dat soos ons grootword ons dit nie altyd meer so glo soos toe ons kinders was nie, VERAL wanneer die lewe moeilike draaie met ons loop en ons so baie vrae het waarop ons nie antwoorde kry nie.
Tema van die Storie: God hou die Hele wêreld in Sy hand
Hierdie is die pragtige verhaal van Hailey – ‘n sendeling op ‘n ver afgeleë plek. Dit vertel hoe die Here nie net die wêreld nie, maar ook Hailey se lewe en toekoms in Sy hand gehou het, omdat Sy Hom vertrou het, en haar lewe aan Hom gewei het.
God hou die Hele wêreld in Sy hand
Hailey was ‘n sendeling wat gewerk en gebly het by ‘n stam in ‘n afgesonderde deel van die wêreld. Sy het reeds sewe jaar al by hierdie stam gebly en hulle het haar vertrou. Hailey het die kinders van die dorpie geleer by ‘n klein skooltjie. Sy het hulle Engels geleer, godsdiens en basiese wiskunde. Die kinders was mal oor haar en die hoofman van die stam het haar gerespekteer. Die hoofman het nie in Jesus geglo nie, maar hy het die kinders toegelaat om self te kies omdat hy gesien het hoe baie die kinders die Bybelstories wat Hailey vir hulle vertel geniet het.
Dit neem meer as ‘n week om van Suid-Afrika na die eiland te reis waar Hailey gebly en werk het. Selfs in vandag se moderne tyd van vliegtuie, helikopters, karre en bote kon sy nie net vlieg na die naaste lughawe en ry vir ‘n paar kilometres om by haar bestemming uit te kom nie. Dit was ‘n ag ure vlug, gevolg deur ‘n uur helikopter rit, ‘n vyftig kilometer stap, ‘n rit in ‘n bootjie oor ‘n rivier met krokodille en slange en dan ‘n rit in ‘n groter boot tot by die bestemming.
Slegs twee maal ‘n jaar het Hailey pos en voorraad ontvang. Onder die voorraad was ‘n klein noodhulp tassie, skool boeke, papier, penne, basiese toiletware en soms selfs sjokolade wat sy met vreugde met die kinders gedeel het. Hailey het nooit vergeet hoe die kinders gelyk het toe hulle die eerste keer ‘n pen gesien het nie. Hulle kon nie genoeg daarna kyk en aan dit vat nie. Ook die eerste keer toe die kinders sjokolade geproe het nie. Die kleiner kinders het gehuil vir nog.
Waar Hailey vandaan kom, het sy ‘n goed betaalde werk gehad, moderne woonstel, nuwe kar en ‘n liefdevolle familie. Sy was bereid om dit als op te offer om ‘n sendeling te word. Haar familie kon nooit verstaan hoe sy als kon los om in ‘n modderhut te gaan bly, die eienaardigste kos te eet en ‘n God te dien in wie hulle nie glo nie. Maar Hailey was lief vir God met haar hele hart en het met vreugde als opgeoffer om Hom te volg en te dien.
Hailey het vertou dat God vir haar ‘n man sal stuur, al het dit onmoontlik gelyk vir haar om iemand te ontmoet op so ‘n afgelee plek. Na sewe jaar het sy nog nie iemand anders gesien behalwe die stamlede nie. Die omgewing was so afgeleë dat die kanse nul gelyk het om ooit iemand te ontmoet.
Maar terwyl ‘n man dalk nie geweet het waar sy is nie, het God natuurlik geweet. Op ‘n dag het ‘n boot doelloos die rivier afgedryf gekom. Eers was die stamlede agterdogtig, maar toe het hulle versigtig nader gegaan en die boot na die oewer gebring. Binne die boot was ‘n man wat malaria gehad het. Die stamlede het vinnig die man na Hailey geneem, wat hom versorg het todat hy heeltemal gesond was.
Soos hulle vriendskap gegroei het, het die man erken dat hy op soek was na ‘n vrou, maar nooit in sy wildste drome het hy ooit gedink hy sal ‘n vrou so pragtig soos Hailey ontmoet op so ‘n vreemde plek nie. Hy was ook ‘n Christen wat baie lief is vir Jesus. Die twee was vinnig dolverlief op mekaar en die hoofman het hulle toestemming gegee om te trou. Hailey se man het ook sy lewe agtergelaat om saam met Hailey te kom woon en werk onder die stam.
So paar maande na hulle getroud is, het Hailey gevoel sy wil tog vir haar man vra hoe op dees aarde hy homself in daardie boot bevind het in die afgeleë area. Hy vertel haar toe dat God al vir jare met hom gepraat het oor daardie dorpie en dat Hy God eerste moet stel bo sy eie belange. Uit nuuskierigheid het hy kom kyk hoe dit daar lyk en het hy probeer uitvind of hy uit sy eie uit wou kom en of dit regtig die roepstem van God was wat hom daarnatoe wou stuur. Toe hy Hailey ontmoet het en haar liefde vir die mense en God gesien het, het hy geweet dat God hom met ‘n doel daarnatoe gestuur het. Hailey het net gelag en God gedank vir haar man. God het vir haar nie net ‘n man gestuur nie, maar ‘n sielsgenoot wat die Here net so liefhet as wat sy het. Hy het haar ‘n antwoord op gebed gestuur.
Laai die storie hieronder in PDF formaat af:
God hou die hele wêreld in Sy hand
Volg die skakel hieronder na ons ander Stories:
https://algoagemeenskapskerk.com/category/stories/