Hierdie is ons agt en twintigste Kort boodskap, Saalopening idee.
Boelies
Inleiding:
Indien jy ‘n projektor in die saal tot jou beskikking het kan jy die les begin deur ‘n video clip te speel. Hier is ‘n hele klomp waarvan jy kan kies. Daar is vir Laerskool en Hoërskool kinders.
Video clips:
Illustrasie: Die twee appels
Instruksies vir die illustrasie:
Jy kan vooraf met ‘n kind reël om jou te help met die illustrasie, of ‘n mede kollega. Dit werk goed om die appel die dag voor die tyd al te gooi om dit vol kneusplekke te kry sodat dit lekker bruin is wanneer jy dit oopsny.
Koop twee appels. Maak seker dat albei omtrent dieselfde lyk, maar een moet effens kleiner wees en nie so blink nie.
Wys die twee appels vir die kinders en vra vir hulle om vir jou te sê hoe die appels dieselfde lyk (ooreenkomste) en hoe hulle anders van mekaar lyk. (So jou appels moet omtrent dieselfde lyk, behalwe dat een bietjie groter en blinker is.)
Neem nou die appel wat bietjie kleiner is en sê: “Sies! Hierdie appel lyk aardig.” Terwyl jy dit sê, laat val die appel. (Laat die appel so val dat dit nie buitekant skade opdoen nie. Jy wil dit nie in stukke hê nie.)
Tel die appel op en wys dit vir die vrywilliger wat jou help terwyl jy vra: “Dink jy nie hierdie appel is sommer simpel nie? Jy moet ook iets leliks vir die simpel appel sê (laat die appel weer val). Laat jou vrywilliger die appel vashou en gooi, terwyl jy nou vir kinders uit die gehoor vra om lelike goed vir die appel te sê. (pasop net vir REGTIG lelike goed, wees voorbereid daarop).
(Voorbeelde kan wees: Jy is seker vol wurms, jy is te klein, jy is ‘n lelike rooi ens.)
Laat die vrywilliger nou altwee appels weer ophou vir die kinders om daarna te kyk. Vra vir hulle om weer te kyk hoe lyk die appels dieselfde en wat is anders. (Dit behoort steeds dieselfde te lyk, behalwe vir die kleur en grootte).
Vra: “Wie van julle wil ‘n stukkie appel hê?”
Bring ‘n mes en ‘n snybord saam en sny die twee appels deur. Sny eerste die blink appel wat nie laat val is nie oop. Wys vir die kinders dat dit mooi aan die binnekant lyk.
Sny dan die tweede appel, wat laat val is, oop. Van al die laat val, behoort dit bruin en gekneus aan die binnekant te lyk. Wys dit vir die kinders. Vra: “Wie wil ‘n stukkie van hierdie appel hê?”
Niemand behoort van die appel te wil hê nie.
Vra: “Maar het ons almal nie eintlik gemaak dat die appel so lyk nie? Ons het dit aan die appel gedoen. Hoekom moet ons hom dan nie eet nie?”
Wie van julle weet wat dit beteken as iemand geboelie word? Wanneer iemand jou boelie kan hulle dalk elke dag hierdie dinge doen:
- Jou lelike name noem;
- Stories opmaak om jou in die moeilikheid te kry;
- Slaan, knyp, byt, stamp en stoot;
- Iets uit jou hande wegvat;
- Dit wat aan jou behoort stukkend gooi;
- Jou geld vat;
- Jou vriende van jou wegvat;
- Lelike dinge van jou sê vir ander mense;
- Dinge vir jou sê wat jou bang laat voel.
Dink julle nie dat ons vanoggend hierdie appel “geboelie” het nie? Wanneer ons lelike dinge vir mense sê soos dat ons nie meer hul maatjie wil wees nie, of dat hulle lelik of vet is, hulle seermaak deur hulle te slaan of te skop, doen ons presies dit wat ons aan hierdie appel gedoen het. Ons maak hulle seer aan die binnekant, daar waar niemand kan sien nie. Waar iemand geslaan is aan die buitekant, gaan die bloukol of stukkende plek later weg, maar die einas aan die binnekant gaan nie sommer weg nie en dit raak baiekeer net erger en erger. Wys weer die gekneusde appel dat almal dit kan sien: “Dis wat ons doen aan ander wanneer ons boelie met ons vuiste of met ons woorde.”
Miskien word hierdie dinge aan julle gedoen.
Wat moet ons dan maak as ons geboelie word?
- Dis baie belangrik om iemand te vertel. Jy mag dalk nie wil nie, maar as jy nie vir mamma, pappa, ouma, juffrou of iemand wat jy kan vertrou vertel nie, mag dit dalk nie ophou nie.
- Probeer om veilig te wees by die skool deur altyd mense rondom jou te hê.
- As jy sien iemand word geboelie by jou skool, vertel juffrou of meneer daarvan. Moenie moeilikheid maak met die boelies nie, vertel sonder dat hulle dit sien. Kinders wat geboelie word, het vriende nodig so as jy kan help, maak so.
Toepassing:
Weet julle dat ons ook van boelies in die Bybel lees? Ja, selfs in die Bybel se tyd was daar boelies gewees. Wie van julle ken die stories van Daniël en sy drie vriende in die Bybel?
Die mense was so jaloers op hulle gewees dat hulle aan maniere gedink het om hulle seer te maak. Daniël se drie vriende het in ‘n vuuroond beland omdat hulle nie voor die koning se beeld wou buig nie, en NET voor God wou buig.
Daniël self is in ‘n leeukuil gegooi omdat hy geweier het om op te hou bid, net omdat die boelies hom in die moeilikheid wou bring.
Wie van julle weet wat met Daniël en sy drie vriende gebeur het? Hulle het nie gedoen wat die boelies wou hê hulle moes doen nie, maar aangehou om God te aanbid.
En God het hulle veilig gehou omdat hulle op Hom vertrou het. ‘n Engel het Daniël se drie vriende in die vuuroond beskerm, en ‘n engel het die leeus se bekke toegebind dat hulle Daniël kon seermaak nie.
So kan ons ook vir God vra om ONS te beskerm teen die boelies wat probeer om ons seer te maak, sodat ons binnekant nie sal bruin raak soos die appel s’n nie.
Sluit af met gebed waar spesifiek gebid word vir boelies.
Laai die saalopening hieronder in PDF formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander saalopening idees: