Hierdie is ons dertigste Kort boodskap, Saalopening idee.
Ek hoef julle niks te vertel van die statistieke van selfmoord onder ons kinders nie. Hierdie saalopening kan ook as ‘n besprekingspunt in die klas gebruik word. Dis geskik vir Hoërskool kinders, maar kan aangepas word vir Laerskool kinders.
Ons sluit ook ‘n pragtige storie (wat nie deel van die les is nie) oor selfmoord in. Indien jy verder met die kinders oor die onderwerp van selfmoord wil praat is die fliek: To Save a Life, ‘n baie goeie aanknopingspunt.
Selfmoord
Reël vooraf met ‘n paar vrywilligers om jou met die illustrasie te help. Neem ‘n klompie goed saam wat BITTER smaak vir die vrywilligers om aan te proe.
Laat die vrywilligers op die verhoog staan en laat hulle aan die bitter goed proe. Vra hulle die volgende vrae nadat hulle daaraan geproe het.
Vrae:
- Hoe het die goed gesmaak waaraan julle geproe het? (bitter)
- Wie van julle het daarvan gehou?
- Wie van julle sal hierdie goed sommer net vir die lekker of ‘vrywillig’ eet?
Bespreek die ysbreker:
Weet julle dat hierdie bitter goed wat julle nou aan geproe het ons baie laat dink aan ons lewens. Baie keer is daar ‘bitter’ goed in ons eie lewens. Help my om ‘n paar op te noem.
- Egskeiding van ouers
- Dood van ‘n geliefde
- Vriendskap wat verbreek is
- Jy word geboelie
- Molestering / Verkragting
- Depressie
- Kinders wat jou beskinder en jou slegmaak
- Jy druip
Ons sal ‘n lang lys kan maak as ons tyd het om aan te gaan. Wat kies baie mense, en deesdae veral kinders en tieners as ‘n uitweg uit hierdie bitter situasies uit? Selfmoord!
Selfmoord is deesdae iets wat ons al meer van hoor, VERAL onder ons kinders. Julle is mos slim, kom ek kyk wie my met hierdie een kan help.
Wat is die KERN van selfmoord? Hopeloosheid! Jy moet geen hoop meer hê dat dinge beter gaan wees en gaan raak as jy tot op die punt van selfmoord gekom het nie. Jy dink nie dat iemand jou kan help of ‘n uitkoms vir jou kan gee nie. Selfmoord is ‘n teken van iemand wat alle HOOP verloor het, want as jy selfmoord pleeg is daar nie omdraai kans nie, jy kan nie weer ‘terugkom’ en iets ‘anders’ probeer nie.
Een van die ergste goed rondom selfmoord is, is dit wat jy aan die mense om jou doen, jou ma / pa / vriende ens. Die persoon wat selfmoord pleeg voel dalk dat hulle nou ontslae is van al hulle probleme, maar hulle veroorsaak ‘n leeftyd van hartseer en verwyt vir die mense wat agter bly.
Daar is altyd HOOP!
Vanoggend wil ek vir jou kom sê dat daar ALTYD hoop is! Jy moet net weet waar om daarvoor te gaan soek. Selfmoord is GEEN oplossing vir jou probleme nie, want daarmee veroorsaak jy ‘n KLOMP probleme vir ander mense.
-
Jesus Christus
Die eerste hoop wat ek vanoggend vir jou wil gee is Jesus Christus! Ek weet, hier slaan baie van julle se ore nou onmiddelik toe! Ontspan! Ek gaan nie vanoggend vir jou uit die Bybel uit preek nie, ek wil net vir jou sê dat Jesus jou liefhet, en dat Hy JOU gemaak het met ‘n baie spesiale doel. Moenie dat die satan jou doel by jou kom steel deur selfmoord nie!
-
Mense gee om vir jou
Die tweede hoop: Daar is meer mense wat vir jou omgee as wat jy dink. JY dink dalk dat niemand jou gaan mis, of gaan omgee as jy nie meer hier is nie! Verrassing!! Dis ‘n GROOT GROOT leuen!!! Gaan maak ‘n lysie van almal wat jy DINK jou gaan mis, en gaan praat met hulle, hoor by hulle of jy vir hulle belangrik is en hoekom.
-
Elke probleem het ‘n oplossing
Die derde hoop: Elke probleem het ‘n oplossing – hier gaan jy dalk weer vir my sê dat ek nie weet waarvan ek praat nie! Dan wil ek jou vandag UITDAAG!! Voordat jy tot die stap oorgaan om jou eie lewe te neem – selfmoord te pleeg – gaan na jou onderwyser of jou ouer, iemand wat jy kan vertrou, en kyk of hulle jou nie sal kan help met ‘n oplossing vir jou probleem nie.
-
Waarop gaan jy uitmis?
Die vierde hoop: Ek wil jou weer uitdaag!! Gaan maak ‘n lys van alles waarop jy gaan uitmis as jy sal besluit om selfmoord te pleeg, en dan maak jy ‘n lys van die ‘voordele’ van selfmoord pleeg. Ek kan jou vandag WAARBORG dat die uitmis lys langer en belangriker sal wees as die ‘voordele’ lys – mits jy EERLIK met jouself is!!
Jy sit dalk hier en dink dat ek nou REGTIG nie weet waarvan ek praat nie, maar ek wil jou weer uitdaag!! Gaan PROBEER dit…… wat het jy om te verloor?? As jy aan selfmoord dink HET jy iets om te verloof…… ALLES, vir ALTYD!!!
Toepassing:
Kom ons raak prakties. Wat moet jy doen as jy daaraan dink om selfmoord te pleeg?
- As jy daaraan dink om selfmoord te pleeg, moet dit nie vir jouself hou nie. Praat met iemand wat jy kan vertrou, jou onderwyser, vriend, ouer of iemand by die kerk. Moenie skaam wees daaroor nie, want die mense wat vir jou omgee sal jou graag daardeur wil help en jou nie daaroor veroordeel nie.
- Weet dat daar al BAIE mense is wat hierdeur gewerk en gehelp is – mense wat net so moedeloos en sonder hoop soos jy was!
- Omdat jy nou so voel beteken nie dat jy dadelik selfmoord moet pleeg nie. Probeer om iets te kry wat jy tussen jou en jou pyn jou gedagtes aan selfmoord kan sit.
- Deur met iemand te praat oor die redes waarom jy selfmoord wil pleeg mag jou beter laat voel, en selfs vir jou oplossings vir jou probleme gee.
- Onthou om beter te voel moet jy leef, as jy dood is kan jy nie beter voel nie!
Afsluiting:
Ek wil julle wat hier sit vanoggend vra om sensitief te wees vir jou maats. As hulle anders optree as gewoonlik. Oor selfmoord begin praat. Hulle onttrek aan dinge wat hulle gewoonlik geniet het, kom PRAAT met een van ons daaroor. Baie keer dink ons dat so iemand net aandag soek…. My vraag is hoe gaan jy voel as jy geweet het en daardie persoon wel selfmoord pleeg! Die verwyt gaan jou vir altyd opvreet.
Sluit af met gebed
Ons sluit ook ‘n klompie ekstra inligting oor selfmoord aan die onderkant van die les in wat ons nie nou hier deel nie.
Laai die les hieronder in PDF formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander saalopening idees: