Hierdie is ons een en dertigste Kort boodskap, Saalopening idee.
Hoop
Speletjie
Trek ‘n groterige boks soos ‘n fotostaat papier boks mooi oor. Gooi ‘n klompie goed in die boks wat jy kan weggee bv. lekkers, ‘n pakkie chips, ‘n potlood, soft toy, net wat jy het om weg te gee. En skryf daarop “Pryse”.
Vra ‘n paar vrywilligers om jou te help. Laat hulle in ‘n sirkel staan en voordat jy begin gesels jy eers met die kinders oor die volgende:
Besprekings vrae:
- Hoop julle dat daar pryse in die boks is?
- Hoekom hoop julle dit? (omdat dit op die boks geskryf staan).
- Dit voel amper asof ek ‘n belofte maak DAT daar pryse in die boks is.
- Wanneer iemand jou iets beloof dan HOOP jy dat hulle dit sal doen, of dat dit so sal wees soos hulle beloof het?
Nadat die kinders deelgeneem het aan die bespreking speel jy lekker musiek en laat die kinders die boks in die rondte omstuur. Die een wat die boks vashou wanneer die musiek ophou mag EEN iets uit die boks uit kies (sonder dat die ander sien wat alles in die boks is). Daardie kind is dan uit, speel die musiek en stuur die boks om totdat almal ‘n beurt gekry het.
Wanneer die speletjie klaar is vra jy die kinders of hulle gekry het wat hulle gehoop het in die boks was?
Hoop
Soos julle seker agtergekom het gaan ons vanoggend bietjie oor die woord “HOOP” praat.
Wat is hoop? Hoop is om in jou hart te weet dat iets gaan gebeur al kan jy dit nog nie sien nie.
Daar is egter twee soorte hoop. Die een is die wêreld se hoop, soos om te sê ek hoop ons eet vanaand pizza. Hierdie ‘hoop’ is meer ‘n wens dat dit so sal wees, want jy is nie SEKER dat dit gaan gebeur nie.
Wanneer ons sê ons ‘hoop’ op God, is dit iets heel anders. As ons op God hoop, dan weet ons dat Hy dit sal doen wat Hy in die Bybel beloof Hy sal doen.
HOOP is iets BAIE belangrik, want wanneer dit sleg gaan, dan help HOOP ons om vas te hou en te glo dat dinge beter sal gaan, of dat daar uitkoms sal kom.
Daniël se drie vriende:
Daniël se drie vriende wat in die vuuroond gegooi is, is vir ons ‘n goeie voorbeeld van hoop.
Die koning van daardie tyd – Nebukadnesar – het ‘n beeld laat maak waarvoor almal moes buig wanneer die musiek begin speel. Die mense wat nie voor die beeld wou buig nie, sou in ‘n warm vuuroond gegooi word. Daniël se drie vriende wou nie voor die koning se beeld buig nie, en het die volgende vir die koning gesê:
“Die God wat ons dien, kan ons uit die oond en uit u mag red as Hy wil. 18. En selfs al wil Hy nie, kan u maar seker weet dat ons nooit u gode of die goue beeld wat u laat maak het, sal dien en aanbid nie.” (Die Boodskap: Daniël 3: 17-18)
Hulle het gehoop dat God hulle uit die vuuroond sou red, en dit was genoeg rede vir hulle om nie voor die koning se beeld te buig en ‘n ander god te aanbid nie.
Toepassing:
Wanneer ding swaar en moeilik in jou lewe gaan, help hoop dat God jou gaan help jou om vas te hou, en nie moed op te gee nie. Hoe God help, lyk nie altyd soos ons DINK dit gaan lyk nie.
God het nie gekeer dat Daniël se drie vriende in die vuuroond beland nie, maar Hy het hulle wel beskerm dat hulle niks oorgekom het IN die vuuroond nie. God het ‘n engel gestuur wat saam met hulle in die vuuroond was.
Partykeer laat God toe dat slegte goed met ons gebeur, maar as ons HOOP dat Hy sal help, dan kom ons daar deur – ok aan die ander kant. Nie altyd soos ONS dit wil hê nie, maar hoe HY die beste weet hoe!!
Sluit af met gebed
Laai die saalopening hieronder in PDF formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees: