Tema: Hierdie storie is ‘n pragtige illustrasie van hoe God geskape het, maar sonde het ons kom ‘wegsteel’ van Hom, maar omdat Hy ons so liefhet, het Hy ‘n plan gemaak om ons terug te koop. Ons is nou twee keer syne.
Jy is Myne
Klein Jannie en sy ouers sou die vakansie see toe gegaan het, en elke middag as hy van die skool af gekom het, het hy gou sy huiswerk klaar gemaak, en dan het hy na sy pa se garage verdwyn en ywerig gewerk aan ‘n bootjie wat hy wou saam neem see toe. Daar was baie ure se geduld en arbeid in die maak van die bootjie gesit, en uiteindelik was sy meesterstuk klaar, en kon hy dit baie trots in sy kamer bêre, tot die tyd aanbreek.
Soggens as hy wakker word het hy gou opgestaan om eers weer die bootjie te poets, en dit dan weer terug te sit. Hy het die dae afgetel, en uiteindelik het die groot dag aangebreek. Jannie het sy goed in die motor gepak, maar sy bootjie het hy by hom gehou op die sitplek.
Hy het heerlike tye met sy bootjie tussen die rots poele deurgebring. Een middag toe roep sy ma hom om te kom eet, en die hongerpyne het hom so gejaag, dat hy vergeet het om sy bootjie te neem. Met die terugkom slag sien hy dat die bootjie nie meer daar is nie. Hy het oral gesoek maar dit was weg. Met trane wat oor die wange loop het hy sy ma gaan vertel. Sy was so hartseer vir haar seun, want sy het geweet hoeveel ure se werk het in die maak van die bootjie gegaan.
Om hom te troos sê sy hulle kan afstap na die plaaslike vlooi mark want miskien is daar ‘n bootjie wat hy kan koop. Hy was nie baie lus nie, maar het toe saam met haar gestap. Toe hulle verby een van die stalletjies kom, sien hy sy bootjie daar uitgestal. Hewig ontsteld het hy na die eienaar van die stalletjie gegaan en vir hom gesê dis sy bootjie. Die man het na die seuntjie gekyk en gesê hy is baie jammer, maar hy het die bootjie by iemand gekoop, en dat Jannie sal moet betaal as hy die bootjie wil terughê. Jannie het die man gevra wat die prys is, en na die man vir hom die prys genoem het, hardloop hy terug na die woonstel.
Hy het al sy spaargeld uit sy varkie gehaal en dit versigtig getel, en toe gesien dat hy net net genoeg gehad het om die bootjie te koop. Dit was geldjies wat hy deur die jaar verdien het deur takies in die huis te verrig, sodat hy vir hom ook lekkergoed en roomys by die see kan koop. Maar sy liefde vir sy bootjie, het die lekkergoed en roomys gedagte totaal oorskadu.
By die vlooimark stalletjie het hy vinnig die geld aan die eienaar oorhandig en die man het die bootjie vir Jannie gegee. Toe by by sy ma kom, het hy haar die bootjie gewys, en dit styf teen sy bords vasgedruk, en gesê: Nie alleen het ek jou gemaak nie, maar nou het ek jou gekoop ook. Jy is nou twee keer myne.
God het ons geskape, elkeen na Sy beeld, en toe het sonde ons weggesteel, maar Hy het ‘n plan beraam en met die Bloed van Sy Seun, het hy ons weer teruggekoop.
Vandag druk Hy jou vas teen Sy bors, en Hy fluister in jou oor, “Nie alleen het Ek jou geskape nie, maar Ek het jou duur gekoop…… Jy is nou twee keer Myne.
Laai die storie hieronder in PDF formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander stories: