Personeelkamer Opening: 43. Kersfees

43. groot

Hierdie is ons drie en veertigste Personeelkamer Opening.

Met Kersfees om die draai, en die jaar wat amper op ‘n einde is, is dit dalk tyd dat ons weer bietjie ‘voorraad-opname’ van ons geestelike lewens doen. Ons het twee boodskappe ingesluit waaruit jy kan kies. Die eerste een is Die Stokkies Jesus en die tweede is ‘n Kersfees Boodskap.

Kersfees 1. Die Stokkies Jesus

So ‘n paar jaar gelede het my kinders vanaf Australië kom kuier. Hulle sou Kersfees saam met ons deurbring en ek het gewonder wat spesiaals ek vir die twee kleuter kleinseuns van my kon doen om dit vir hulle besonder en uniek te maak. Ek wou so graag dat hulle Kersfees sou onthou as ‘n tyd wat nie gaan oor geskenkies kry nie, maar dat dit oor Jesus Christus gaan.

Dis Oukersdag en ek is laatmiddag gou Mall toe. Dis chaos! Almal hardloop rond om die laaste geskenke of eetgoed te koop en die winkelrakke is vreemd leeg. Ek drafstap van winkel tot winkel en soek ‘n miniatuur kerstoneel met Maria, Josef, die skaapwagter, Jesus in die krippie – jy weet mos! Almal het altyd so een onder die kersboom!

Uiteindelik kry ek die laaste een by ‘n duur geskenkwinkel. Tuis help twee paar gretige kinderhandjies my om die bubble wrap om elke beeldjie af te haal en versigtig in en om die stal te plaas, maar o wee! Daar is nie ‘n baba Jesus in die pakkie nie! Wat nou? Die winkels is toe, omruil is buite die kwessie. Maar ouma is vinnig met ‘n plan en maak van stokkies en lappies ‘n amper poppie en siedaar! Jesus is in die krippie!

Laat die aand, na almal al bed toe is, sit ek en wonder oor die verlore beeldjie. Die stokkies Jesus voel net nie vir my reg nie. Ek gaan kombuis toe en gooi vullissakke die een na die ander op die vloer uit en soek tussen die oorskietkos en geskenkpapier … ek gril! Maar tussen die stukke bubble wrap kry ek toe een stukkie wat vreemd lyk en wonder bo wonder … ek het die figuurtjie Jesus gevind! Gretige handjies moes die stukkie misgekyk het.

Ek plaas die “regte Jesus” terug in die krippie en met trane in my oë sak ek af op my knieë en bid: “Here Jesus, ek weet vanaand dis ook tyd dat ek my lewenssak vol vuilgoed oopkrap en voor U voete kom neergooi en aanhou soek en soek totdat ek die regte Jesus kry! Help my om asb die stokkies Jesus van my lewe te verruil vir die regte egte Jesus! Help my dat ek nie hierdie feestyd sonder U, die regte, ware Jesus sal gaan nie! Dankie dat U vanaand my oë oopgemaak het om dit raak te sien. Amen.”

Mag dit waar wees van jou. Mag jy plek maak vir die regte Jesus in jou lewe. Mag jy Hom volg deur die nuwe jaar en vir ewig daarna … Die ware opgestane Jesus, wat die wêreld kom red het.  Mag die liefde van ons Almagtige God en die genade van Jesus ons Verlosser oor jou reën en mag die Heilige Gees jou hand neem, orals waar jy gaan. Amen

Outeur onbekend

Laai die Personeelkamer Opening hieronder in PDF formaat af:

43. PERSONEELKAMER OPENING – Kersfees – Die stokkies Jesus

Kersfees 2: ‘n Kersfees Boodskap

Matt.9:13 “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar die sondaars.”

Elke jaar gaan kersfees gepaard met baie besluite. Waar gaan ons wees, wat gaan ons eet en wie gaan wat kry? Met Jingle Bells in jou ore breek die frustrasie van nog ‘n jaar se kersfeesinkopies aan. Jy en jou vrou is al klaar kwaad vir mekaar nog voor die eerste geskenk gekoop is.

Skip van drome:

Sy het bekend gestaan as die skip van drome. Sy was agt honderd en negentig voet lank. Veertien duisend mense het aan haar gebou. Die anker het vyftien en half ton geweeg en is deur twintig perde van die fabriek af tot by die skip getrek. Die binnekant van hierdie skip het tien maande geneem om te voltooi, altesaam ‘n paar mijoen ure se werk aan Louis Quinze, Klassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown Berger skilderye, Franse kaffees en Turkse baddens om maar net ‘n paar op te noem.

Sy is ook genoem: Die onsinkbare skip en in ‘n koerant van 1912 word berig dat selfs God haar nie kan sink nie.

Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem 1500 lewens saam na haar watergraf.

Tydens hierdie twee ure het interessante verhale afgespeel. Daar was te min reddingsbote. Die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek kry. Later het die Kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met babatjies plek op die reddingsbote mag kry. ‘n Man met ‘n babatjie in sy arms het verby ‘n vrou gehardloop wat nie ‘n kind gehad nie. Vir haar was die afkondiging ‘n doodsvonnis. Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit en sê: Dit is joune…hardloop vir jou plek op die reddingsboot!

Wat is jou grootste Kersgeskenk?

Ons is almal daarvan bewus dat ons lewensvaart iewers soos die Titanic gaan sink. Ons is ook bewus daarvan dat nie almal in hierdie lewe die reddingsboot van Jesus gaan haal nie.

Met Kersfees kom sit God opnuut weer sy kind in jou arms en sê: Dit is joune… hardloop na my reddingsboot. Moenie wag tot dit te laat is nie. Wanneer ‘n skip sink, word lug uitgeblaas en water ingesuig. Wag jy tot dit te laat is, word jy saam ingesuig al spring jy.

Die meeste mense wat hulle lewe in die Titanic ramp verloor het, het nie verdrink nie maar verkluim. Wie wil in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou ‘n plek op sy onsinkbare reddingsboot voorberei het.

Toepassing:

Miskien is daar iemand waaroor jy baie bekommerd is of wonder waar hulle welvaart hulle aan die einde van nog ‘n jaar gebring het? Miskien sukkel jy ook soos ek om geskenke te koop en wonder wat jy vir die of daai een sal koop hierdie jaar.

Sit Jesus in die arms van mense wat oopoë besig is om te sink. Dit is na alles waaroor Kersfees gaan.

“Sonder Jesus is ‘n vyftien en ‘n half ton anker te lig en 70 000 oorvol skip te swaar”.

My wens vir almal is dat almal van julle reeds julle plekke op God se reddingsboot ingeneem het.

Laai die ‘n Kersfees Boodskap hieronder in PDF formaat af:

43. PERSONEELKAMER OPENING – ‘n Kersfees Boodskap

Kersfees 3: Mike se Kersfees Boodskap

Dis kersfees en soos dit tradisioneel gaan is dit mos die tyd dat ons die weeshuise en ouetehuise ens besoek.

‘n Sending paartjie het besoek afgelê by n weeshuis, en voor al die geskenkies uitgedeel is, het die sendeling se vrou die kinders bymekaar geroep, en sy het hulle die Kersverhaal vertel. Hulle het gehoor van Josef en Maria wat in Bethlehem aangekom het, en dat daar nie vir hulle plek was nie en hulle toe in die stal beland het.

Daar is Jesus toe gebore en in die krip geplaas. Dwarsdeur die verhaal het die kinders vasgenael gesit en luister. ‘n Paar se mondjies het oopgehang en hulle het nie beweeg nie.

Vir meeste van hierdie kinders was dit die eerste keer dat hulle die Kersverhaal gehoor het.

Na die verhaal het die sending paartjie toe stukke karton uitgedeel en hulle almal geleer hoe om ‘n krip te maak uit die karton. Toe die krip klaar was kon hulle grassies buite gaan haal om in die krip te sit, en ‘n ou stuk lap was opgesny en uitgedeel om as kombers te dien, en uit velt materiaal is daar vir hulle gewys hoe om ‘n figuurtjie uit te sny wat sou dien as die Baba.

Terwyl hierdie weeskinders druk besig was om die verhaal wat hulle nou net gehoor het uit te beeld het die sendeling se vrou tussen hulle deurgestap om te sien hoe hulle vorder. Alles het mooi gelyk en toe kom sy by die tafeltjie waar klein Mike besig was om te werk. Mike was 5 jaar oud, en toe sy nader stap, sien sy tot haar verbasing dat daar in sy krip, nie net een baba is nie, maar twee.

Sy het gedink miskien het Mike die verhaal verkeerd verstaan en hom gevra om vir haar die verhaal te vertel soos hy dit verstaan het. Alles was doodreg en hy het die verhaal pragtig vertel, tot by die gedeelte waar Josef en Maria die Baba in die krip neergelê het. Toe staan hy regop, en ewe kordaat vertel hy toe die volgende weergawe: Sy weergawe.

Hy vertel vir die sendeling se vrou: “En ek was ook daar daardie aand, toe Jesus gebore is. En toe kyk Jesus reguit vir my en Hy vra toe vir my, Mike het jy ‘n plekkie om te bly,……. En toe sê ek vir Hom, nee, Jesus, ek het nie ‘n mamma en ‘n pappa nie, en ek het ook nie ‘n huis om in te bly nie. Ek is maar net ‘n weeskind wat nêrens behoort nie.

En toe sê Jesus vir my ek kan maar by Hom kom bly. Toe dink ek so bietjie en toe sê ek vir Jesus maar ek het nie ‘n geskenkie om vir Hom te gee soos die wyse manne nie. Maar toe vra ek Hom, of dit reg is dat ek by Hom in die krip kan kom lê, dan sal ek Hom lekker warm hou, en dis mos ook ‘n geskenk.

Toe kyk Jesus vir my en Hy sê, as jy my warm hou, dan sal dit die grootste geskenk ooit wees. En toe klim ek in die krip by Hom, en toe sê Jesus vir my, Mike, jy kan maar vir altyd en altyd by my kom bly!”

Met trane wat oor die wangetjies loop het Mike opgekyk na die Sendeling se vrou en gesê: “Nou het ek ook Iemand aan wie ek behoort. Iemand wat my nooit sal wegstoot oor ek ‘n weeskind is nie, en Iemand by wie ek altyd kan bly”.

Toepassing:

Soms voel ons ook so verlate en uitgestoot soos Mike. Ons voel so asof ons nêrens tuis is, en of maar net ‘n Geestelike weeskind is. Maar dan kyk ons in Jesus se oë en sien die liefde en warmte, en weet Hy sal ons altyd liefhê. Hy sal altyd vir ons plek maak, Hy sal ons nooit begewe of verlaat nie.

Geseende Kersfees almal

Geskryf deur Georgie

Laai Mike se Kersfees Boodskap hieronder in PDF formaat af:

43. PERSONEELKAMER OPENING – Mike se Kersfees Boodskap

Volg die skakel hieronder na ons ander Personeelkamer Opening idees:

https://algoagemeenskapskerk.com/category/personeelkamer-opening/

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s