Hierdie is ons sewe en veertigste Kort Boodskap, Saalopening idee.
Vriendskap:
Inleiding:
Vanoggend gaan ons bietjie oor vriendskap gesels.
- Wie van julle het ‘n BFF?
- Waarvoor staan BFF?
- Kom ons kyk gou wie het dieselfde BFF al die langste: 3 maande, 6 maande, 1 jaar, 2 jaar, 5 jaar, 10 jaar ens. Steek julle hande op.
- Wie van julle stem saam dat vriende baie belangrik is?
Kom ons kyk gou watter ‘bestandele’ is belangrik vir ‘n goeie vriendskap, as ons ‘vriendskap -sop’ sou maak, wat sou ons alles daarin wil hê?
Video clip: https://youtu.be/H7w7yXkJTu0
Vriendskap:
Ons vriende is mense wat ‘n baie groot invloed op ons lewens het. Mens kan dikwels vir jou vriende goed vertel wat jy nie vir jou ouers kan vertel nie, jy kan saam lag en saam huil, saam stout wees en saam detensie sit. Vriende kan jou uit die moeilikheid uit help, of verder in die moeilikheid in help.
Daar word op verskillende plekke in die Bybel oor vriendskappe gesels, ons gaan gou vinnig na drie van hulle kyk:
-
Goeie vriende:
Wat is die eienskappe van ‘n goeie vriendskap?
Julle is altyd daar vir mekaar, lojaal teenoor mekaar – as iemand sleg of lelik van jou vriend agter hulle rug praat, dan staan jy vir hulle op. Goeie vriende motiveer mekaar, en inspireer mekaar vir groter en beter dinge. Goeie vriende maak die lewe vir jou beter en mooier.
- Dawid en Jonathan
Ons eerste voorbeeld van goeie vriende in die Bybel is die van Dawid en Jonathan. Hierdie twee vriende was baie lief vir mekaar gewees, en wou net die beste vir mekaar hê. Jonathan, die koning se seun, het tot vir Dawid vertel wanneer sy pa, die koning, slegte goed vir Dawid beplan het, en hom wou doodmaak. Hulle vriendskap was vir hulle baie kosbaar en belangrik gewees, en hulle het nie toegelaat dat ander mense of goed tussen hulle vriendskap kom nie.
- Daniël se 3 vriende
Ons lees nie baie van Daniël se drie vriende in die Bybel nie, maar wat ons wel weet is dat hulle waardes dieselfde as Daniël sin was. Dit wat vir Daniël belangrik was, was ook vir hulle belangrik gewees. Hulle geloof in God, en hulle godsdiens was so belangrik vir hulle gewees, dat hulle in ‘n vuuroond daarvoor beland het, en Daniël in die leeukuil.
-
Slegte vriende
Soos mens goeie vriende kry, kry jy natuurlik ook slegte vriende. In die boek Ester lees ons van ‘n man met die naam Haman. Haman was eintlik te groot vir sy skoene gewees, en het meer van homself gedink as wat hy moes. Omdat een van die Jode, Mordegai, nie voor hom wou buig nie, het hy kwaad geraak en sy vriende vir raad gevra oor wat hy met Mordegai moes doen.
Sy vriende het nie vir hom goeie raad gegee nie, maar hom aangehits in die slegte goed wat hy in sy hart teenoor Mordegai gevoel het. Hulle het voorgestel dat hy ‘n galg laat bou, en Mordegai daaraan moes laat ophang. Om ‘n lang storie kort te maak was Haman op die einde die een wat aan sy eie galg opgehang is en NIE Mordegai nie.
Samevatting:
Kom ons kyk gou vinnig na die drie stories en kyk wat ons daaruit kan leer:
- Goeie vriende is altyd daar vir mekaar.
- Goeie vriende gee om vir mekaar.
- Goeie vriende kyk uit vir mekaar en beskerm mekaar.
- Goeie vriende is lojaal.
- Goeie vriende deel dieselfde waardes.
- Slegte vriende kan jou in groot moeilikheid laat beland.
Laai die Saalopening Les hieronder in PDF formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees: