Hierdie is ons vyftigste Kort Boodskap, Saalopening idee.
Geduld
Inleiding:
Vanoggend gaan ons oor ‘n onderwerp praat waarmee meeste van ons op verskillende vlakke sukkel.
Voordat ons by die tema kom gaan ek eers vir julle ‘n paar moontlike oorsake van die probleem wys. Kyk of julle deur die PowerPoint kan agterkom wat die tema asook die probleem is.
Illustrasies:
Kry vier vrywilligers wat jou gaan help. Laat hulle in twee spanne teen mekaar deelneem.
#Uitdaging 1:
Vir uitdaging een gee jy vir elke span ‘n telefoon boek met ‘n aantal telefoon nommers wat hulle moet opsoek.
#Uitdaging 2:
Die span wat die eerste uitdaging gewen het kan nou hulle selfone gebruik om die volgende nommers op te soek. Die ‘verloor’ span moet weereens die telefoon boek gebruik.
Process die uitdagings:
- Was die eerste uitdaging met die telefoon boek maklik of moeilik gewees?
- Die span wat die eerste uitdaging gewen het, was die tweede uitdaging makliker gewees?
- WAT was vir albei spanne die moeilikste met uitdaging 1 gewees?
- Hoe het die uitdaging julle laat VOEL?
Geduld:
Ons leef in ‘n tyd waarin meeste goed kits en makliker gemaak word, ons leer nie meer om te wag, en deur moeilike omstandighede te werk nie. Ons kan selfs telefoon nommers maklik op ons selfone opsoek, in plaas van om in ‘n telefoon boek daarvoor rond te soek.
Kom ons kyk na van die voorbeelde wat op die PowerPoint was:
- Weggooi doeke i.p.v. lap doeke
- Cup-a-soup i.p.v. self gemaakte sop
- Drive-thru by eetplekke omdat dit meestal vinniger en makliker is
- Checkers lewer binne 60 minute jou inkopies af sonder dat jy self in ‘n ry te staan
- Google maps i.p.v. ‘n oudtydse kaart
- Google vir enige iets anders wat jy vinnig wil opsoek
Die uitdagings was ‘n goeie voorbeeld van hoe gefrustreerd en ongeduldig ‘n mens kan raak en voel wanneer jy begin sukkel, dinge lank vat, of jy en jou maat nie saamstem oor HOE om iets te doen nie.
Om geduld te hê is nie so moeilik as dinge goed gaan, op jou manier gebeur, of jy weet HOE om iets te doen nie. As jy nie nodig het om vir iets te wag nie, dan is dit nog beter!
Voordat ons verder gaan, kom ons kyk gou wat die woord GEDULD beteken:
Webster se woordeboek definieer [wees] geduldig as:
1. verduur pyn, probleme, ens. Sonder klagte
2. kalm verdraagsaamheid, vertraging, verwarring, ens.
3. wat kalm uithouvermoë toon
4. ywerig; volhard.
So as ons na die definisie kyk is geduld nie nodig wanneer dit met ons goed gaan of dinge gunstig is nie, maar wanneer ding moeilik gaan en omstandighede ongunstig is.
Ek weet nie van julle nie, maar ek glo dat baie min mense hierdie soort geduld uit hulle self, en op hulle eie kan hê.
Geduld: ‘n Vrug van die Gees – Gal 5:22 / Spr 14:29
Wanneer ons na die Bybel gaan, dan sien ons dat geduld een van die nege vrugte van die Heilige Gees is. Wat dit beteken is dat WARE, REGTE geduld iets is wat ek kan kry wanneer ek ‘n kind van God is, en Sy Gees binne my is.
So, beteken dit nou dat wanneer ek ‘n kind van God raak, en ek my hart vir Hom gee, Hy ‘n ‘magic wand’ oor my swaai en ek ewe skielik nie meer daarmee sukkel nie? Nee, beslis nie! Dit beteken dat ek God se Gees binne my het om my te HELP, stap vir stap om meer geduld te hê wanneer dinge moeilik gaan.
Soos alles in die lewe is baie daarvan ‘n keuse, maar ek het nou hulp – God se Gees om my daarmee te help, en dit van Hom af te bid.
Hoekom is geduld, en die vrugte van die Gees dan so belangrik vir God?
Die vrugte is vir God belangrik, omdat mense deur die vrugte kan sien dat ons God se kinders is omdat ons anders as die wêreld lyk, en anders optree wanneer dinge moeilik raak.
Het julle geweet dat baie mense self ongeduldig met God raak?
Hulle raak ongeduldig wanneer hulle oor iets bid en dit gebeur nie dadelik nie, of nog erger, dit gebeur nie soos hulle dit wil hê nie. Dan raak hulle kwaad vir God en baie van hulle besluit selfs dat om die pad saam met God te stap nie meer die moeite werd is nie.
Geduld beteken om op God te wag onder moeilike omstandighede, omdat ek WEET dat HY die beste weet, weereens is hierdie ‘n vrug wat NET die Heilige Gees vir jou kan leer en jou mee kan help.
Afsluiting:
Geduld maak nie net die wêreld makliker vir jouself nie, maar ook vir die mense om jou. Dink gou hoe jy voel wanneer iemand ongeduldig agter julle toeter blaas wanneer ma of pa te stadig by ‘n verkeerslig wegtrek.
Hoe voel dit wanneer jy in ‘n lang ry êrens staan en wag en die mense om jou begin te kla en moeilik te raak?
Ongeduld raak nie net vir jou nie, maar ook vir die mense om jou, en geduld, veral onder moeilike omstandighede raak ‘n getuienis oor die God wat jy aanbid.
Laai die Saalopening les hieronder in PDF formaat af, asook die PowerPoint:
Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees: