r
Die verhaal van Paasfees is seker een van die mooiste verhale van genade en liefde wat ons vir ons kinders moet leer, maar ook moet leer om hulle eie te maak.
Dis egter oor die Evangelies ‘versprei’ en maak dit moeilik wanneer jy dit vir jou kinders wil lees om nie dele daarvan uit te los nie.
Ons het al die hoofdele van Jesus se kruisiging en opstanding gevat en dit ‘bymekaargesit’ op een plek, om vir jou kinders te lees, of te gebruik waar jy dit ookal nodig het.
Die verhaal van Paasfees word gevind in: Matt 26-28; Markus 14-16; Lukas 22-24; Joh 18-20
Die Verhaal van Paasfees:
Dis Paasfees in Jerusalem. Met Paasfees sê die Jode vir God dankie dat Hy hulle uit Egipte laat trek het, en vir hulle gesorg het. Dan slag hulle ‘n lammetjie en eet spesiale brood.
Jesus en sy dissipels vier ook Paasfees, hy vra sy dissipels om ‘n spesiale kamer daarvoor reg te kry. Terwyl hulle om die tafel sit sê Jesus vir sy dissipels dat een van hulle Hom gaan verraai. Een van hulle gaan Sy vyande help om Hom te vang.
Almal skrik, want hulle kan nie dink dat een van hulle so iets sal doen nie, hulle is dan almal lief vir Jesus. Jesus sê dat die een wat sy brood saam met syne in die skottel steek, die een is wat Hom gaan verraai – Judas steek sy brood saam met Jesus s’n in die skottel en staan dan op van die tafel en loop uit.
Jesus weet dat Hy gaan sterf. Hy wil hê ons moet altyd onthou dat Hy vir ons sondes gesterf het. Hy neem toe brood en breek dit en gee vir elke dissipel ‘n stukkie. Hy sê: “Dit is my liggaam, eet dit en onthou My”. Toe neem Hy die wyn, gee vir elkeen ‘n bietjie en sê: “Dit is my bloed wat al julle sondes weg was.”
Dit was die eerste Nagmaal gewees. Vandag vier ons wat in Jesus glo nog altyd die Nagmaal, want dan onthou ons dat God vir Jesus gestuur het om ons sondes weg te neem.
Nadat Jesus en sy dissipels klaar die Nagmaal gebruik het, gaan hulle na ‘n tuin met die naam Getsemane toe. Jesus weet dat hulle Hom daardie nag nog gaan vang om hom te kruisig. Hy is baie bang, want Hy is God se Seun en Hy weet presies wat hulle met Hom gaan doen, en hoe moeilik dit vir Hom gaan wees. In die tuin bid Hy en vra God sy Vader dat as dit moontlik is, hierdie dinge nie met Hom moet gebeur nie, maar as God regtig dink dis nodig, dan sal Hy dit doen.
Hier in die tuin van Getsemane word Jesus deur die soldate gevang, nadat Judas vir die priesters vertel het waar om Jesus in die hande te kry.
Pilatus, die man wat moes besluit wat hulle met Jesus moes doen, het geweet dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie. Toe hy die Jode vra wat hy met Jesus moes doen, het hulle geskree: “kruisig hom”.
Nadat Jesus BAIE geslaan was, soveel so dat Hy nie eers meer sy eie kruis na Golgota kon dra nie, het hulle Hom aan die kruis vasgespyker. Almal wat rondom die kruis gestaan het, het met Hom gespot, en gesê ander kon Hy red, maar nie Homself nie, as jy God se Seun is, kom van die kruis af.
Jesus het nie, want Hy het geweet HOEKOM Hy aan die kruis hang, nie omdat Hy iets verkeerd gedoen het nie, maar vir elkeen van ons se sondes, sodat as ons HOM kies, dan hoef ons nie hel toe te gaan en self die straf vir ons sondes te kry nie.
Terwyl Jesus aan die kruis gehang het en BAIE swaar gekry het en almal met Hom lelik was en Hom gespot het, het Hy niks leliks terug gesê nie, Hy het net vir God gevra om hulle te vergewe, want hulle weet nie wat hulle doen nie.
Toe begin dit skielik donker word. Dit was nog middag gewees, maar die son het nie meer geskyn nie. Die aarde het begin bewe en die mense het bang geword, en hulle het nie meer gespot nie. Jesus sê toe: “Dit is volbring”. Dit beteken: nou is die sonde klaar betaal, Jesus het satan oorwin en hy het geen mag meer ons nie. Op daardie oomblik het Jesus gesterf, en een van die soldate het geweet dat Jesus regtig God se Seun was.
Toe hulle ‘n spies in Jesus se sy steek het daar net bloed en water uitgekom, wat vir hulle gewys het dat Jesus regtig dood is.
Na Jesus se dood het een van Jesus se vriende met die naam Josef na Pilatus gegaan en gesê dat hy Jesus graag wil begrawe. Hulle het sy liggaam gevat, dit in doeke toegedraai en in ‘n rotsgraf gesit met ‘n groot klip voor dit.
Drie dae later, die Sondagmôre, het Maria Magdalena na Jesus se graf toe gegaan, maar toe sy daar kom was die swaar klip voor die graf weggerol, en die graf was leeg gewees. Sy het dit toe vir twee van Jesus se dissipels gaan vertel, en terwyl hulle daar was het hulle gesien dat die graf leeg was.
Maria was baie hartseer gewees en het nie verstaan dat Jesus leef nie, toe sy weer in die leë graf inkyk sien sy twee engele op die plek sit, waar Jesus gelê het. Hulle vra haar toe hoekom sy so huil, en sy sê sy weet nie waar hulle Jesus nou begrawe het nie.
Toe Maria omdraai staan Jesus voor haar, maar sy het nie geweet dat dit Hy was nie, want sy het gedink Hy is dood. Hy vra haar ook hoekom sy so huil, en toe sy Hom dieselfde antwoord as vir die engele gee, noem Hy net haar naam, en sy weet dis Hy en dat Hy leef!!
Nadat Jesus met haar gepraat het, het sy gehardloop om vir die ander te vertel dat Jesus regtig opgestaan het, en dat Hy leef!!!
Laai Die verhaal van Paasfees hieronder in PDF formaat af:
Die Verhaal van Paasfees – Eenvoudig
Laai die inkleurprente by die skakel hieronder af:
Click to access _coloring_easter_story.pdf
Volg die skakel hieronder na ons twee interaktiewe weergawes van die Verhaal van Paasfees:
https://algoagemeenskapskerk.com/2021/03/25/die-verhaal-van-paasfees-2/
Volg die skakel hieronder na ons ander Paasfees hulpbronne:
https://algoagemeenskapskerk.wordpress.com/category/paasfees/
[…] Die Verhaal van Paasfees 1 […]
LikeLike