Stories: Die Lappiesmous

Die lappiesmous

Stories is ‘n nuwe afdeling wat ons graag as hulpbron by die res van ons hulpmiddels beskikbaar wil stel.

Stories is een van daai wonderlike ‘tools’ wat op die regte tyd en die regte plek gebruik, jou les na die volgende vlak kan vat. Daar is so baie mooi stories wat mens al van vergeet het, en ons is besig om hulle uit te snuffel, waar nodig te vertaal na Afrikaans, en met julle te deel.

Die tema van die storie: Jesus het ons siektes, swakhede en sondes op Hom geneem

Die Lappiesmous is ‘n pragtige storie om Paasfees aan jonger kinders te verduidelik. Dit vertel die verhaal van die sterk jong man wat almal se probleme, siektes en swakhede op Hom neem. Soos Hy dit op Hom neem raak dit deel van Sy liggaam, en takel dit Hom af sodat Hy buite die stad op ‘n heuwel sterf. Drie dae later is Hy weer lewendig.

Die Lappiesmous

Voor dagbreek een Vrydag sien ek ’n jongman, aantreklik en sterk, deur die agterstrate van ons stad loop. Hy trek ’n karretjie waarop ’n spul lappe lê. Hulle lyk pragtig skoon, nuut en helderkleurig. “Lappe! Lappe! Lappe! Nuwe lappe vir oues!” roep die jongman. “Ek neem jou stukkende lappe! Kom ruil dit om vir nuwes.”

“Merkwaardig”, sê ek vir myself. Dit lyk na so ’n gawe, sterk jongman. Sou hy dan nie ’n beter werk kon kry nie? Waarom nou met lappe smous? My nuuskierigheid was so geprikkel dat ek hom gevolg het. En ek was nie teleurgestel nie.

By die eerste huis waar die lappiesmous verbygaan, sit ’n vrou op die stoep en huil. Haar sakdoek was sopnat en haar skouers het geruk van die snikke. Dit was duidelik: haar hart was stukkend. Die lappiesmous het sy karretjie gestop en na die vrou gestap. “Mevrou, gee jou lap vir my,” het hy saggies gesê, “ek sal vir jou ’n nuwe lap gee.”

Toe neem hy haar sakdoek en plaas ’n nuwe lapsakdoek in haar handpalm. Toe begin hy weer sy karretjie trek terwyl hy met sy ander hand ’n snaakse ding doen. Hy sit die vrou se nat sakdoek teen sy oë en begin self huil. Die vrou se trane het intussen opgedroog. “Dis ’n wonder!” het ek uitgeroep en die huilende lappiesmous verder gevolg. “Lappe! Lappe! Nuwe lappe vir oues!” roep hy.

Kort daarna kom die lappiesmous op ’n jongmeisie af. ’n Erg bebloede verband was rondom ’n yslike wond aan haar kop gedraai. Haar oë was dof en leeg. Toe haal die lappiesmous ’n vrolike geel laphoed uit sy karretjie. “Kom, gee my jou lap en ek sal jou myne gee!” bied hy aan. Die meisie het hom net aangestaar. Toe gaan hy nader en haal met ’n teer gebaar die bebloede verband van haar kop af en draai dit om sy eie kop. Skielik het sy begin glimlag. Ek het na my asem gesnak, want saam met die verband het die wond gekom. Die bloed het nou oor sy gesig gestroom en haar wond was genees. “Lappe! Lappe! Ek ruil ou lappe vir nuwes!” roep die sterk, huilende, bloeiende lappiesmous.

Toe hy ’n man met net een arm raaksien, vra hy: “Het jy werk, meneer?” “Is jy laf?” antwoord die af-arm man bitter. “Wie sal my kan gebruik?” “Gee my jou baadjie, dan gee ek jou myne,” antwoord die lappiesmous met gesag. Toe die ruiltransaksie voltooi is, kon ek my oë nie glo nie. Die man het nou twee volmaakte arms gehad en die lappiesmous net een! “Gaan werk nou!” was die lappiesmous se vriendelike bevel. Só het die lappiesmous aangestap: huilend, bloeiend, gebreklik, oud en siek. Met sy enigste arm het hy sy karretjie getrek.

My hart wou breek toe ek die droewige verandering in die mooi, sterk man se voorkoms sien. Toe hy by die vullishope op die heuwel buite die stad kom, het hy daar inmekaargesak en gesterf.

Ek het my seker aan die slaap gehuil – en later agtergekom dat ek dwarsdeur die res van daardie Vrydag en die Saterdag daar gelê en slaap het. Die Sondagmôre vroeg is ek wakker geskok deur ’n verblindende lig wat rondom my skyn. Toe my oë daaraan gewoond raak, was ek die getuie van die wonder van alle wonders. Voor my het die lappiesmous gestaan.

Hy was weer jonk en mooi en lewend! En al die lappe wat hy langs die pad by stukkende mense gekry het, was silwerskoon. Ek stap toe na hom toe en vra: “Trek my ook nuut aan.” Toe verruil my Here my vodde vir pragtige nuwe klere, en sê: “Gaan vertel vir jou vriende: As julle mekaar liefhet, sal almal weet julle is My lappiesmouse vir die wêreld.”

Hierdie is Piet Naude se vertaling van Walter Wangerin se verhaal.

Laai die storie hieronder in PDF formaat af:

Die Lappiessmous

Volg die skakel hieronder na ons ander stories:

https://algoagemeenskapskerk.wordpress.com/category/stories/

Volg die skakel hieronder na ons ander Paasfees hulpbronne:

https://algoagemeenskapskerk.wordpress.com/category/paasfees/

 

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s