“Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.” 2 Tim 4:7
“Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” Fil 3:14
Tema van die Storie: Voltooi die Wedloop
Hierdie is die ware verhaal van die Olimpiese altleet Derek Redmond wat tydens die 1992 Olimpiese spele ten spyte van ‘n geskeurde dyspier, met die hulp van sy pa, die wedloop voltooi het. Dit demonstreer pragtig hoe moeilik die wedloop is, maar dat ons moet deurdruk tot die einde om die Hemelse Prys te behaal.
Voltooi die Wedloop
Tydens die 1992 Barcelona Olimpiese Spele, het een van die mees ongelooflike insidente in veld – en – baannommers plaasgevind. Derek Redmond van Brittanje het sy lewe lank gedroom om ‘n goue medalje in die 400m wedloop te wen en sy droom was in sig toe die afsetterskoot klap vir die semi-finaal in Barcelona.
Hy het die wedloop van sy lewe gehardloop en kon die wenpaal sien toe hy die draai na die pylvak neem. Hy het skielik gevoel hoe ‘n skerp pyn aan die agterkant van een van sy bene opbeweeg. Hy het op sy gesig neergeval op die baan met ‘n geskeurde dyspier.
‘n Berig in ‘n sportkoerant het so verslag gedoen oor die dramatiese gebeure:
Terwyl mediese hulp hom genader het, het Redmond met moeite opgestaan. “Dit was dierlike instink” het hy later verduidelik. Hy het al hinkende die onmoontlike poging om die wedloop te voltooi, aangepak. Terwyl hy nog talle meters vanaf die wenpaal was, het ‘n groot man in ‘n T-hemp van die pawiljoene se kant af gehardloop, ‘n veiligheidswag weg- gestoot en na Redmond gehardloop en hom omhels.
Dit was Jim Redmond, Derek se vader. “Jy hoef dit nie te doen nie!”, het hy aan sy huilende seun gesê. “Ja, ek moet”, het Derek geantwoord. “Wel, dan maak ons dit saam klaar”, was sy pa se reaksie. En hulle het. Hulle moes veiligheidswagte van hulle weghou en soms het Derek sy kop op sy pa se skouer laat rus. So het hulle in die baan gebly tot by die wenstreep, terwyl die skare verwonderd toegekyk het en hulle staande en sommige huilende toegejuig het.
Derek het nie die goue medalje ontvang nie, maar het weggestap met die ongelooflik herinnering aan ‘n vader wat, toe hy sy seun se pyn aanskou het, sy sitplek in die pawiljoen verlaat het om hom te help om die wedloop te voltooi.
Laai die storie hieronder in WORD formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander Stories:
https://algoagemeenskapskerk.com/category/stories/