Romeine 6:23 sê: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”
Tema van die Storie: Dodelike Albasters
Hierdie storie illustreer weer hoe aanloklik en ‘onskuldig’ sonde soms lyk, maar dat die einde daarvan altyd die dood is.
Dodelike Albasters
Hierdie verhaal is gebasseer op ‘n ware gebeurtenis.
‘n Sekere Mexikaan se werk was om afval-materiaal by ‘n sortingsterrein op te laai. Op ‘n dag was hy baie opgewonde oor die groot hoeveelheid metaal wat hy op sy vragmotor kon laai. As hy dit by die metaalherwininningsdepot sou lewer, sou dit vir hom baie geld inbring.
Toe hy op die hoofweg indraai, het klein staalballetjies begin rol uit ‘n antieke masjien wat vroeër x-strale geneem het in ‘n tandarts se praktyk. Die klein radio-aktiewe balletjies het heen en weer oor die laaibak gerol en party het deur die gleufies grond toe geval.
Nadat hy die afvalmetaal afgelewer het en betaal is, het die man vinnig na sy dorpie teruggery. Metaalballetjies het steeds in die gleuwe van die bakwerk gerol. Die dorpie se kinders het die helder blink balletjies vinnig opgeraap en daarmee albasters gespeel. Die balletjies was ‘n kosbare toevoeging tot hul albaster-versameling.
Dit was nie lank voordat verskeie mense begin kla het van dieselfde simptome: rooi veluitslag, moegheid, haarverlies en naarheid. Na ‘n paar maande waartydens heelwat inwoners van die dorpie gesterf het, is die rede vir hul dood vasgestel.
Baie mense het gesterf en talle het gely aan ernstige bestralings-vergiftiging. Die klein balletjies wat deur die kinders gekoester is, en onder mekaar uitgeruil is, was toe lekker om mee te speel, maar dodelike speelgoed gewees!
Hierdie storie kan vergelyk word met sonde doen. Sonde lyk so ‘lekker’ om mee te ‘speel’, net soos hierdie balletjies. Dit lyk onskadelik, en asof dit jou niks sal maak nie, maar net soos hierdie balletjies is die uiteinde van sonde ook die dood.
Romeine 6:23 sê: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”
Laai die storie hieronder in PDF formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander Stories: