Hierdie is ons vyf en twintigste Kort boodskap, Saalopening idee.
Respek
Inleiding:
Ons gaan vanoggend oor ‘n baie belangrike woord gesels – respek. Respek is moeilik om te verduidelik, maar dit beteken baie vir almal van ons.
Ek dink die maklikste manier om dit te verduidelik is jy wys respek vir iemand deur die manier hoe jy optree teenoor hulle – goed of sleg. Wanneer ek respek vir iemand het, maak hoe hulle voel – hulle gevoelens – vir my saak. As ek respek het gaan ek ander mense en dit wat hulle s’n is, nie met opset seermaak of breek nie.
Demonstrasie:
Bring ‘n paar velle skoon papier saam en kry ‘n paar vrywilligers om jou met die demonstrasie te help.
Ek het nou vir julle probeer verduidelik wat dit beteken om respek vir iemand te hê, maar ek dink om dit dalk beter te verstaan, is om te sien wat dit aan iemand doen wanneer jy nie respek vir hulle het nie.
Elke vrywilliger kry ‘n stuk papier. Eers moet hulle dit in die kleinste balletjie rol wat hulle kan. Dan kan hulle daarop trap. Laat die kinders dit dan oopvou en probeer om al die kreukels en vou uit te kry. Die stuk papier gaan nooit weer skoon en reguit, sonder kreukels wees nie.
Disrespek
Die teenoorgestelde van respek is disrespek. Het julle geweet dat wanneer jy iemand sonder respek behandel – sleg, en nie omgee vir hulle gevoelens nie – jy hulle seermaak? Dit laat hulle voel asof hulle nie saakmaak nie, nie belangrik is nie.
Jy kan dit nie sien nie, want hulle wys dit nie vir jou nie, maar elke keer as jy iemand sonder respek behandel, dan maak dit hulle seer, en voel hulle later soos die stukkie papier.
Scenario’s
Nou vir wie moet ons almal respek hê? Vir almal wat ons elke dag sien. Mamma, pappa, ouma, oupa, boetie en sussie – ja ook vir hulle! Jou juffrou en meneer, jou bure, jou maatjies.
Skryf ‘n paar scenario’s voor die tyd op papiertjies neer en kry ‘n vrywilliger om jou te help. Deel ‘n groot stuk papier in twee. Skryf aan die een kant respek en aan die ander kant disrespek. Lees die scenario’s en laat die kinders in die saal besluit of dit respek of disrespek uitbeeld. Laat die vrywilliger dit dan onder die afdeling plak wat die kinders gesê het.
Scenario’s:
- As iemand val dan lag jy.
- As jy iets in die klas wil sê of vra, steek jy jou hand op.
- Jy rol jou oë vir die juffrou of vir pappa en mamma.
- Jy maak jou kamer skoon wanneer mamma jou vra om dit te doen.
- Jy praat nogsteeds in die klas wanneer juffrou gevra het dat julle moet stilbly.
- Jy maak skoon waar jy gemors het.
- Jy vat ander kinders se kos of lekkers af.
- Jy praat terug wanneer mamma/pappa/juffrou met jou praat of vir jou sê om iets te doen.
- Jy vra jou maatjie of jy hulle uitveër kan leen.
- Jy kyk mamma/pappa/juffrou in die oë wanneer hulle met jou praat.
- Jy stamp ander kinders op die speelgrond rond.
- Jy bly stil in die gange en in die ry.
- Jy sê dankie en asseblief as iemand vir jou iets gedoen of gevra het.
- Jy praat terwyl mamma/pappa/juffrou praat.
- Jy hou aan om mamma/pappa/juffrou in die rede te val.
- Jy gooi jou papiere in die drom.
- Jy groet iemand wanneer jy hulle sien.
Toepassing:
Ek wil julle vanoggend met hierdie paar gedagtes los. Hou jy daarvan wanneer mense ongeskik met jou is? Hou jy daarvan wanneer mense jou ignoreer – maak of hulle jou nie raaksien nie? Hou jy daarvan wanneer mense jou seermaak? Hou jy daarvan wanneer mamma/pappa/juffrou jou nie vertrou nie? Hou jy daarvan wanneer ander mense jou goed breek?
Die groot geheim van hoe ander mense JOU behandel, is hoe jy HULLE behandel. Jy kan nie verwag dat mense JOU met respek behandel as jy hulle nie met respek behandel nie!
Jy hoef nie van iemand te hou om hulle met respek te behandel nie. Al behandel iemand JOU nie met respek nie, behandel jy hulle nogsteeds met respek. HOEKOM??? Respek sê iets van JOU, wie JY is, NIE van wie die ander persoon is nie!!!
Wat sê God oor respek? Is dit belangrik?
Om ander mense met respek te behandel is ‘n opdrag van God:
1 Pet 2:17 (NLV) “ Julle moet alle mense respekteer. Julle moet al die lede van die huisgesin van God liefhê. Betoon ontsag aan God. Respekteer die koning”
As jy respek wil hê, moet jy respek gee.
Matt 7:12 “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen”
Sluit af met gebed
Laai die Saalopening hieronder in PDF formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees:
[…] Saalopening: 25. Respek […]
LikeLike