Hierdie is ons ses en vyftigste Saalopening kort boodskap idee. Ons het twee heeltemal verskillende saalopening boodskappe waaruit jy kan kies, loer gerus na albei voordat jy ‘n keuse maak.
Kersfees:
Instruksies:
- Bring ‘n groot kersboom saam en laat dit voor die tyd op die verhoog staan.
- Maak of koop die volgende ornamente/items voor die tyd, want dis deel van die les en gaan aan die boom gehang word:
- Hartjies, krippie, skapies, engel, duif, kroon, ster, geskenk, kruis, liggies,
Vrae:
Voordat jy met die les begin gaan jy eers ‘n paar algemene vra vra:
- Watter tyd van die jaar gebruik ons ‘n kersboom?
- HOEKOM gebruik ons ‘n kersboom?
- Wat geniet julle die meeste van kersfees?
- Watter spesiale goed doen julle vir kersfees?
Inleiding:
(kry vrywilligers om jou te help om die artikels aan die boom te hang)
Soos julle weet is dit een van die dae weer kersfees, en soos baie van julle nou gesê het is dit ‘n tyd van geskenk, lekker eet en feesvier.
Vir ons as Christene is dit ‘n tyd waarin ons dink aan God se spesiale geskenk aan ons – SY Seun – Jesus Christus! ‘n Tyd waarin ander dinge vir ons moet saakmaak as geskenk, lekker eet en feesvier!
Ons gaan vandag bietjie kyk hoe ons die kersboom in ons huise kan gebruik om vir mense wat by ons kom kuier van Jesus te vertel. Daarvoor het ons spesiale versierings nodig wat mens nie alles in ‘n winkel kan koop nie. Ons maak hulle en sit hulle aan ons kersboom omdat hulle ‘n baie spesiale storie vertel.
-
Die Kersboom:
- Die kersboom self laat my dink aan die boom van die Lewe waarvan ons in Genesis lees. Jesus het mos juis gekom om aan ons die Ewige Lewe te gee.
- Die groen blare van die boom laat my dink dat ek moet groei in my geloof wanneer my lewe aan Jesus behoort.
- Ek noem dus my kersboom die Boom van die Lewe.
-
Die Hart:
- Elke versiering wat ek aan my boom gaan hang dra ‘n boodskap van die liefde wat God vir my het.
- Daarom is die eerste versiering wat ek aan my boom sit ‘n hartjie.
- Ons lees in Johannes 3:16 – God het die wêreld lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
-
Die Krippie
(Jy kan ‘n boks as ‘n krippie gebruik en dit voor die boom laat staan)
- Volgende hang ons ‘n krippie aan ons boom.
- In Lukas 2:7 lees ons “Sy het haar Eersteling seun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”
- Ek hang ‘n krippie aan my boom om my daaraan te herinner dat daar geen plek vir Jesus in hierdie wêreld was toe Hy gebore is nie, en dat EK vir Hom plek in my lewe en in my hart moet maak.
-
Die Skapie
- Ons hang volgende ‘n skapie aan ons boom.
- Die skaapwagters was die eerste mense aan wie die nuus van Jesus se geboorte gebring was.
- Ons word dikwels in die Bybel ook vergelyk met skape en dat Jesus ons Herder is
- In Joh 10:27 staan daar “My skape luister na my stem: Ek ken hulle en hulle volg My.”
- So wil die skapie aan die boom ons daaraan herinner dat ons as God se kinders na Sy stem moet luister, en DOEN wat Hy vir ons sê.
-
Die Engel
- Volgende hang ons ‘n engel aan ons boom.
- As ek die engel aan my boom hang, dink ek daaraan dat hulle die boodskappers was wat die nuus van Jesus se geboorte vir die skaapwagters gebring het.
- So wil Jesus ook hê dat ons boodskappers van Hom moet wees, om vir die mense te vertel dat Hy gekom het sodat ons nie hel toe hoef te gaan as ons ons lewens vir Hom gee soos Hy Sy lewe vir ONS gegee het nie.
-
Die Duif
- Volgende hang ons ‘n duif aan ons boom.
- Die engele sing op die eerste Kersnag van die vrede wat Jesus bring.
- Daarom hang ek ‘n duif aan my boom om my aan hierdie vrede te herinner wat my deel word wanneer ek my lewe vir Jesus gee.
- Die duif herinner my ook aan die Heilige Gees, God se geskenk aan ons wat ons kry wanneer ons ons lewens vir Jesus gee.
-
Die Kroon
(Jy kan een van die groot krone by Crazy Store koop en op die punt van die kersboom sit)
- Volgende hang ons ‘n kroon aan ons boom.
- Die kroon herinner ons aan die sterrekykers wat vir Jesus geskenk gebring het, maar dit herinner my nog meer dat Jesus die Koning van alle konings is, en dat Hy die Koning van my lewe is en op die troon van my hart sit.
-
Die Ster
- Volgende hang ons ‘n ster aan ons boom
- Die ster het die sterrekykers na Jesus toe gelei.
- Die ster herinner my ook daarna dat die Here beloof het dat ons soos sterre sal skitter as ons gehoorsaam is aan Jesus se opdrag om ander mense na Hom toe te lei. (Dan 12:3b)
-
Die Geskenke
(Jy kan ‘n paar bokse oortrek en onder die boom sit)
- Volgende hang ons drie geskenke aan ons boom.
- Die sterrekykers het vir Jesus geskenk gebring, goud, wierook en mire
- Die grootste en enigste geskenk wat Jesus van My wil hê is my hart en my lewe!
-
Die Kruis
- Volgende hang ons ‘n kruis aan ons boom.
- Die boodskap van Kersfees kan nooit eindig by ‘n baba in ‘n krip nie, want dis net die helfte van Jesus se storie.
- Op Kersfees moet ons dink aan die redding wat Jesus vir ons gebring het, maar hierdie redding het ‘n prys gehad.
- Hierdie redding het ‘n kruis gevra.
- En hierdie kruis het die vrede gebring waarvan die engele op die eerste Kersnag van gesing het.
- Vrede tussen ons en God.
- Het jy al hierdie vrede in jou lewe?
- Het Kersfees JOU al gebring by die kruis en by Christus?
-
Die Liggies
- Laaste hang ons liggies of kersies aan ons boom.
- Hierdie liggies laat my onthou dat Jesus my lewe kom Lig maak het, soos die liggies die kersboom verlig.
- “Ek is die Lig vir die wêreld, sê Jesus. Die Lig van Jesus verdryf die sonde duisternis in my lewe.
- Het die Lig van Jesus al die duisternis van sonde in JOU lewe kom uitwis?
- Mag HIERDIE Kersfees vir jou ‘n Fees van die Lig wees.
- ‘n Fees wat die duisternis sal verdryf en Jesus se Lig sal vertoon.
Ten slotte
Mag julle hierdie jaar met nuwe oë na Kersfees kyk. Mag julle hierdie jaar ‘n Christusfees vier en NIE Kersfees nie. En mag julle kersboom ‘n getuienis uitdra van dit waarin julle glo en die ware Kersfees weerspieël word vir almal wat dit sien.
Laai die Saalopening les hieronder in PDF formaat af:
Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees:
https://algoagemeenskapskerk.com/category/saalopening/