Bid sonder ophou. Paulus stel dit duidelik. Gebed is so belangrik soos asemhaal. Ons het al voorheen genoem dat gebed ons wenresep is, ons geheim. Vandag wil ons graag bietjie uitbrei daaroor.
Gebed oor temas
Voordat ons elke kwartaal aanpak, word daar intens gebid oor wat op die Here se hart is vir daardie kwartaal. Ons doen niks sonder om die Here se mond te raadpleeg nie. Sodra ons by Hom die tema gekry het, begin ons dan met die proses om saam met die Heilige Gees die lesse te kry en te verwerk. Hierdie proses gebeur by elke bedieningspunt nl Sondagskool, EPIC jeusel, G1, Skole ens. Elke dans wat vir die kinders uitgewerk word, word ook eers oor gebid om seker te maak dat dit binne die Here se wil is.
Voorbidding vir verskeie bedieningspunte
Om vir ons kinders te bid is uiters belangrik. Elke kleingroepleier weet om tydens hulle stiltetyd elke dag vir hulle kinders te bid wat hulle bedien of dit by sondagskool, jeugsel of die skole is. Ons skoolgaande leiers by die G1 groep, bid ook vir die kinders wat die sel bywoon. Hierdie struktuur het die Here ons kom leer en so gaan daar gedurig gebede op vir die kinders waarmee ons werk en skep dit ook ‘n kultuur van gebed. Hiermee deel ons dan ook van die gebedspunte met u:
1. Droeë bene – bekering
Bid vir die kinders wat koud is;
Bid vir die kinders wat lou geword het;
Bid vir die kinders wat afgedwaal het;
Bid vir die kinders wat God nog nie ken nie.
Profeteer Eseg 37:4,5,9 oor jeug terwyl jy bid.
2. Nuwe hart
Bid dat die Here die kinders se harde harte (van klip), teenoor Hom, die envangelie en mekaar sal kom uitruk en hulle ‘n hart van vlees sal gee.
Bid vir ‘n nuwe liefde vir God en vir mekaar.
Profeteer Eseg 36:26 oor die jeug terwyl jy vir hulle bid.
3. Reinheid/Heiligheid
Bid vir reinheid en heiligheid onder ons jeug;
Bid dat die manier hoe God wil he dat hulle moet leef vir hulle belangriker sal wees as hulle eie begeertes;
Bid dat hulle Christus se reuk sal versprei waar hulle gaan.
Psalm 119:9-16 en 2 Kor 2:14-15
4. Beskerming en bewaring
Bind en breek die verstings van Satan oor ons jeug – Matt 18:18
Bid vir beskerming dat ons kinders wakker sal wees vir Satan se aanslae – 1 Pet 5:8
Ons het tydens ons EPIC sel ook ‘n voorbiddingsspan wat bid vir ons kinders en ons kan regtig voel hoe daar ‘n rustigheid oor die kinders kom terwyl die span bid.
Ons het ook heelwat gemeentelede wat nie self by die jeug betrokke is nie, maar wel ‘n passie het om vir die jeug te bid. Ons gee dan ook aan hulle gebedspunte deur en hulle bid graag vir die kinders. Gebed is vir ons ‘n noodsaaklikheid in die jeugbediening. Mag ons saam “bid sonder ophou” vir ons kinders.
Seën vir ons jeug:
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal Sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee (Numeri 6:24-26)
Volg die skakel hieronder na ons ander #Sleutelgedagtes: