Hierdie is ons nege en veertigste Kort Boodskap, Saalopening idee. Die saalopening is beskikbaar vir Laerskool sowel as Hoërskool kinders, die twee is baie dieselfde met net ‘n paar verskille.
Vreugde: Laerskool
Instruksie:
Gebruik die aanhegsel en print die emoji gesiggies uit. Dit werk goed as jy dit in kleur kan doen, uitknip en elkeen op ‘n papierbord kan plak. Indien jy elkeen op ‘n stokkie of iets kan vasplak werk dit goed, dan kan jy die papierbord voor jou gesig hou, en aan die stokkie vashou.
Jy kan ook ‘n paar vrywilligers kry om jou te help. Laat elkeen ‘n papierbord met ‘n emoji vashou, dan is jou hande los.
Inleiding:
- Wie van julle hou van emoji gesiggies?
- Waarvoor gebruik ‘n mens gewoonlik emoji gesiggies? (om te wys hoe jy voel)
- Ek gaan ‘n paar emoji-gesiggies vir julle wys, dan sê julle vir my wat elkeen beteken.
Ons het nou na emoji’s met verskillende emosies gekyk, maar ons gaan vanoggend baie kort na een spesifieke een kyk. Kom ons staan en dan help julle my gou.
Speel die liedjie “If you happy and you know it”, terwyl die kinders opstaan en saam met die liedjie sing en dans. (https://www.youtube.com/watch?v=Fa9Kv-fFKB0)
So, wie kan raai waaroor ons vanoggend gaan praat? Oor vreugde.
Vreugde:
Kom ons kyk gou, wat is van die dinge wat julle gelukkig maak? (Gee kans vir kinders om te antwoord.)
Mense hou van gelukkig wees, so hulle doen sommer baie dinge om hulself gelukkig te maak. Hulle gaan fliek of gaan met vakansie. Hulle lees boeke of vertel grappe.
Maar weet julle om gelukkig te wees, is eintlik iets wat baie met die buitekant te doen het en nie soveel wat in ons harte gebeur nie.
As ek vandag vir jou moet sê ek gaan jou R1 000 gee, dan sal jy seker baie gelukkig wees. Dis iets wat aan die buitekant, rondom gebeur en jou gelukkig maak. Die probleem is dat wanneer dinge rondom jou nie te goed gaan nie, dan is jy nie meer gelukkig nie.
As jy die R1 000 verloor in plaas van dat iemand vir jou R1 000 gee, dan gaan jy nie meer gelukkig wees nie.
Wanneer iets goeds met jou gebeur, dan is jy gelukkig, maar wanneer iets slegs gebeur dan raak jy gou ongelukkig. God wil hê dat ons vreugde is ons harte moet hê wat soveel beter is as net gelukkig wees. Nou hoe lyk vreugde dan?
Illustrasie:
Kry ‘n vrywilliger om jou te help. Kry ‘n skinkbord, ‘n lang glas ‘n halwe koppie asyn, een teelepel koeksoda en ‘n halwe koppie water. Voeg eerste die halwe koppie asyn by die water en dan die teelepel koeksoda. Die mengsel sal oorborrel en uitloop in die skinkbord.
Vreugde lyk soos dit wat in die glas gebeur het. Dit kom van die binnekant en borrel uit na buite. Wat gebeur rondom jou (goed of sleg), laat dit nie weggaan nie.
Voorbeeld in die Bybel: Handeling 16:25-34
Ons het ‘n baie mooi voorbeeld van vreugde in die Bybel wat ek gou vir julle gaan vertel. Wie ken die verhaal van Paulus en Silas in die tronk?
Paulus en sy vriende was ‘n paar dae in ‘n dorp met die naam Filippi. Daar was ‘n slavin in die dorp wat ‘n bose gees in haar gehad het, waaruit haar baas baie geld gemaak het as fortuinverteller.
Paulus het die bose gees in die Naam van Jesus beveel om uit haar uit te gaan, en toe het die slavin se baas baie kwaad vir Paulus geraak, want sy kon nie meer geld uit haar verdien nie.
Sy het hulle toe na die stadsplein gesleep waar hulle deur die mense met stokke geslaan was, en vir die nag in die tronk gegooi was, met hulle hande en voete in hout blokke vasgemaak.
Kan julle dink hoe seer hulle moes gehad het, en dan was hulle nog vasgemaak in houtblokke ook, met hulle hande en voete wat hulle nie kon beweeg nie. Die tronke in die Bybel se tyd was nie warm plekke met beddens soos ons sin vandag nie. Dit was koue, nat plekke gewees.
Wat dink julle het Paulus en Silas gedoen terwyl hulle so met hulle seer lywe gesit het?
Hulle het God geloof en geprys terwyl hulle bid en liedjies sing!
Die Bybel sê dat terwyl hulle besig was om te bid en te sing daar skielik ‘n aardbewing was wat die tronk geskud het. Die tronkdeure het oopgegaan en die gevangenes se boeie het losgegaan.
En weet julle wat? Die gevangenes het nie ontsnap nie. Toe die tronkbewaarder sien dat die deure oop is, het hy gedink hulle is weg en wou hy homself doodmaak, maar Paulus het vir hom geskree hy moenie, want almal is nog daar.
Die tronkbewaarder en sy hele familie het hulle harte vir Jesus gegee.
Afsluiting:
Kan julle sien wat die verskil tussen gelukkig wees en vreugde hê is?
Paulus en Silas kon ongelukkig en hartseer gewees het, maar hulle het GEKIES om aan God vas te hou, en Sy naam groot te maak TERWYL hulle in boeie was.
Al het dinge aan die buitekant baie sleg gelyk, was Paulus en Silas aan die binnekant vol vreugde. Daai vreugde het sommer oorgeborrel.
Wanneer probleme in ons lewens inkom, dan wil die duiwel hê ons moet worry en kla en wil ons vreugde by ons steel. Ons het die Heilge Gees wat ons kan help om vrede en vreugde te hê selfs deur moeilike tye.
Laai die Saalopening lesse hieronder in PDF formaat af:
49. Saalopening – Vreugde – Laerskool
49. Saalopening – Vreugde – Hoërskool
49. Saalopening – Vreugde – Aanhegsel – Emojis
Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees: