Hierdie is ons drie en veertigste Kort Boodskap, Saalopening idee.
Vriendelikheid (Kindness)
Inleiding:
Ons gaan vandag oor vriendelikheid gesels, maar dis nie eintlik die regte woord vir dit waaroor ek met julle wil praat nie. Die Engelse het ‘n woord “kindness” wat beskryf waarvan ek praat. Miskien is die woord ‘gaaf’ ‘n beter woord as vriendelikheid, maar kom ons probeer maar.
Speel die video clip: https://youtu.be/TBrJeGrUZpg
Vriendelikheid:
Hierdie video clip verduidelik eintlik alles wat ek vanoggend met julle wil deel. ‘n Bietjie ‘kindness’ / vriendelikheid / gaafheid, maak die wêreld vir die persoon wat aan die ontvangkant daarvan is ‘n baie beter en mooier plek.
Dit verander letterlik jou dag van vaal na kleurvol wanneer iemand vriendelik teenoor jou was, veral as jy dit nie verwag het, of verdien het nie.
Wat sê die Bybel hieroor?
Demonstrasie: Terwyl jy die verhaal vertel gaan jy ‘n demonstrasie doen. Hiervoor het jy ‘n groot deursigtige glasbeker nodig met water in, ‘n rou eier, ‘n lang lepel en ‘n pakkie sout.
Ons lees in die Bybel van Dawid wat koning geword het nadat Saul baie keer probeer het om hom dood te maak. Saul was baie jaloers op Dawid gewees, want hy het geweet dat Dawid koning in sy plek sou word.
Dawid en Saul se seun, Jonathan, was beste vriende gewees. Jonathan het vir Dawid lief gehad soos ‘n broer, en het nie gehou van hoe sy pa met Dawid gemaak het nie, en daarom het hy Dawid altyd probeer beskerm en waarsku teen sy pa, koning Saul, wanneer hy kon.
So het Dawid en Jonathan dan ‘n verbond met mekaar gesluit dat Dawid nooit Jonathan se nakomeling sal uitroei en laat doodmaak wanneer hy koning is nie (1 Sam 20:15)
Toe Dawid koning word het hy nie vergeet van sy belofte aan Jonathan nie. Hy het begin soek na Jonathan se nakomelinge, en na ‘n lang tyd het Dawid vir Mefiboset, Jonathan se seun opgespoor. (2 Sam 9)
Begin demonstrasie:
Gooi die rou eier in die glasbeker – Mefiboset kon nie glo dat Dawid hom nie wou seermaak nie, en hy was bang gewees, omdat hy geweet het wat Saul alles aan Dawid probeer doen het – sien julle die eier sink.
Begin nou die sout stadig in te gooi, terwyl jy die storie verder vertel: maar Dawid was nie soos koning Saul gewees nie, hy was gaaf en het ‘n goeie hart gehad, en hy het ‘n belofte aan Jonathan gemaak waaroor hy ernstig was.
En so het Dawid se vriendelikheid en sy ‘kindness’ vir Mefiboset oortuig dat hy, Dawid anders was, en dat hy nie slegte bedoelings met hom gehad het nie. Hy het vir Mefiboset onder sy sorg geneem, en aan sy tafel laat eet (gooi nog sout in). Hy het al Saul se grond vir Mefiboset teruggegee (gooi nog sout in), en hy het Saul se amptenaar beveel om die grond vir Mefiboset te bewerk (gooi nog sout in) sodat daar vir sy huis kos kon wees.
Die eier moet nou bo dryf, gebruik die lepel om die sout mee te roer sodat die kinders kan sien dat die eier dryf: En DIT is die effek wat vriendelikheid / kindness op die wêreld om ons het.
Samevatting:
Vriendelikheid / kindness / gaaf wees verander die wêreld om jou. Dit verander die mense om jou, en dit kan baie ‘aansteeklik’ wees en ander kan begin om dieselfde as jy te begin doen.
Kom ons kyk vandag, hierdie week, hierdie jaar na maniere hoe ons ander se dag kan ophelder met vriendelikheid / kindness / gaaf wees!
Laai die Saalopening les hieronder in PDF formaat af:
43. Saalopening – Vriendelikheid – Kindness
Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees:
[…] Saalopening: 43. Vriendelikheid (Kindness) […]
LikeLike