Saalopening: 45. Reëls

45. groot

Hierdie is ons vyf en veertigste Kort Boodskap, Saalopening idee.

Reëls:

Benodigdhede:

  • ‘n Slangetjie en leertjie bord
  • ‘n Dobbelsteentjie

Inleiding:

Ons gaan vanoggend begin deur slangetjies en leertjies te speel. Ek gaan teen julle speel. Kan ek ‘n vrywilliger kry om vir julle die steentjie te gooi?

Ons gaan die speletjie so bietjie anders speel as wat julle gewoond is, maar ek sal dit aan julle verduidelik soos ons aangaan.

Maak die reëls op soos jy aangaan bv. wanneer dit jou beurt is om te gooi dan sê jy bv. nou kan ek ‘n ekstra beurt kry om te gooi, wanneer jy bv. ‘n drie gooi dan kry ek dubbel punte en kan 6 aanskuif, wanneer jy gooi tel hoe ver jy van ‘n slangetjie af is, en beweeg agteruit en op teen die slangetjie. Maak die reëls so belaglik as moontlik, jy wil eintlik die kinders kwaad maak met hoe onregverdig jy speel. Ignoreer die kinders se protes, maar evalueer ook die proses, jy wil nie TE lank aangaan en die kinders se aandag verloor nie.

Evalueer die proses:

Jy kan die volgende vrae gebruik.

  • Was die speletjie regverdig gewees?
  • Vir wie was die speletjie lekker gewees?
  • Vir wie was die speletjie sleg gewees?
  • Is dit lekker om teen iemand te speel was nie regverdig speel nie, maar maak net soos hulle wil?
  • Wat sou die speletjie regverdig gemaak het?

Reëls:

Ons het vanoggend met hierdie speletjie gesien hoe die afwesigheid van reëls die mense om jou beïnvloed. Vir my was die speletjie lekker gewees, want ek het gemaak nes ek wou, maar vir julle was dit nie lekker gewees nie, want dieselfde reëls wat ek gevolg het, het nie vir julle gegeld nie.

Wat is die doel van reëls? Reëls is nie daar om die lewe vir ‘n groep mense moeiliker as vir die ander te maak, of om jou pret te bederf nie. Reëls is daar om dinge regverdig te hou, om ons veilig te hou, om die lewe vir ALMAL beter te maak.

Waar het ons orals reëls? By die skool, in die klas, by jou huis. Ons land het ook reëls wat wette genoem word. Wat gebeur wanneer ons nie die reëls of wette nakom nie? Jy word gestraf.

Kom ons noem gou ‘n paar reëls by die skool en in julle klas.

Ons het ook nog ‘n paar reëls met COVID bygekry, kom ons noem hulle gou op.

Indien jou skool godsdiens toelaat kan jy aangaan met die les, of stop voor die 10 Gebooie.

Die Tien Gebooie

Weet julle dat God ook vir ons ‘n klomp reëls in die Bybel gegee het waarvolgens Hy wil hê dat ons moet leef? Wie weet wat dit genoem word? Ja, dis reg, die 10 Gebooie.

God het Moses geroep om die Israeliete uit Egipte weg te neem. Sy broer, Aäron, help hom. Presies drie maande nadat hulle uit Egipte weg is, het die Israeliete in die woestyn Sinai gekom.

Hulle het langs ‘n berg kamp opgeslaan. Dit was toe op daardie berg wat God vir Moses geroep het en vir hom reëls gegee het om vir God se volk te leer, daar was BAIE reëls gewees, maar ons gaan net na die 10 belangrikste kyk – Die 10 Gebooie.

Indien jou saalopening vir Laerskool kinders is, kan jy hulle die bewegings van die 10 Gebooie leer, sien die dokument wat aangeheg is.

  1. Daar is net een God. Jy mag nie ander gode behalwe vir My hê nie.
  2. Jy mag nie ‘n afgod of ‘n teken maak, voor dit kniel, en dit God noem nie.
  3. Jy mag My Naam, nie verkeerd of as ‘n vloekwoord gebruik nie.
  4. Werk ses dae van elke week en rus op die rusdag.
  5. Eer jou pa en jou ma.
  6. Jy mag nie moord pleeg nie.
  7. Julle mag nie julle mans of vrouens sommer net so los as julle getroud is nie.
  8. Jy mag nie steel nie.
  9. Jy mag nie jok nie.
  10. Julle mag nie wens julle het iets wat iemand anders s’n is nie: soos iemand se huis, of sy kar of sy geld of speelgoed of enige iets van hom nie.

Samevatting:

Ons het nou bietjie na die reëls in ons eie skool gekyk, en na die reëls wat God vir ons gegee het, die 10 Gebooie. Dink gou, as ons nie hierdie reëls in die skool of by ons huis gehad het nie, sou dit nog so lekker gewees het?

Ek weet ons hou nie eintlik van reëls nie, maar dink net as daar bv. nie ‘n reël was dat jy nie mag steel, of iemand mag doodslaan nie. Die wêreld sou ‘n vreeslike plek gewees het.

So sal jou huis en die skool ook ‘n vreeslike plek sonder reëls wees. Reëls is daar om ons veilig te hou en die lewe vir almal beter te maak, al voel dit dalk nie altyd so nie.

Laai die Saalopening Les hieronder in PDF formaat af:

45. Saalopening – Reëls

45. Die 10 Gebooie Bewegings

45. 10 Gebooie – Bewegings PPT

45. 10 Gebooie – Emoji’s PPT

COVID 19 – Emoji PowerPoint

Volg die skakel hieronder na ons ander Saalopening idees:

https://algoagemeenskapskerk.com/category/saalopening/

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s